Local newsNews

Kerk bied weg vir vertroosting

“Ons lint-projek is nie net gemik op mense wat weens Covid oorlede is nie.”

Die AGS Kerk, Betesda Gemeente, het verlede week ‘n projek van stapel gestuur om ‘n mate van vertroosting te bring aan inwoners wat geliefdes aan Covid-19 afgestaan het.

Dr Johan van Rensburg, leraar van die gemeente, het inwoners van die dorp (en omliggende dorpe) uitgenooi om in te skakel by die projek.

“Dit is geen geheim dat Covid-19 daagliks geliefdes eis nie en daar is baie hartseer en trauma in ons midde,” het dr van Rensburg gesê.

“Ons het dit goed gedink om mense uit te nooi om, as herinnering aan hul geliefdes, ‘n lint aan die heining voor die kerk te kom bind.

“As gevolg van die omstandighede en beperkings rondom Covid-19 kry mense nie meer die geleentheid om hul geliefdes vir oulaas te groet of ‘n drukkie te gee nie.

“Baie mense kan nie eens hul geliefdes se begrafnisse bywoon, omdat hulle self siek of in isolasie is nie,” het van Rensburg gesê.

“Wanneer iemand ‘n lint aan die draadheining gaan bind is dit amper soos om ‘n blom op jou geliefde se graf te plaas.

LEES MEER: Vaccine registration for people aged 35 years and above now open

“Ons kan op ‘n tasbare manier wys dat mense omgee en dat daar deurentyd aan dié, wat weens Covid-19 gesterf het, gedink word.

“Ons lint-projek is ook nie net gemik op mense wat weens Covid oorlede is nie. Daar is mense wat op ander maniere sterf en die hartseer is net so groot. Daardie mense se naasbestaandes word ook uitgenooi om ‘n lint te kom vasmaak en te bid indien hulle sou wou.

“Ons as gemeente sal ook saam bid en op so ‘n wyse die families onderskraag,” het van Rensburg gesê. Covid-19 veroorsaak nie net sosiale distansiëring nie maar ook emosionele- geestelike en selfs bemoedigingsdistansie.

Mense het nodig om te weet dat daar ander is wat hulle pyn en verdriet en eensaamheid met hulle sal deel.

“Ons moedig die publiek aan om by ons heining stil te hou en ‘n gebed te doen.”

Die publiek kan hulle eie lint neem en aan die heining gaan bind. Dit is ook elkeen se keuse om ‘n naam en of ‘n boodskap op die lint te skryf.

Daar is ook ‘n sakkie aan die heining vasgemaak waarin daar linte geplaas word. Mense wat nie linte het nie kan daarvan gebruik maak.

“Ek besef maar te goed dat die gebaar, om ‘n lint aan ‘n heining vas te maak, niemand se pyn gaan wegneem nie maar ek glo dit kan in ‘n mate ‘n bietjie afsluiting bring,” het van Rensburg gesê.

Die kerk is geleë op die hoek van Hylandstraat en Queenlaan.

LEES MEER: Vaccination in the education sector comes to an end

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button