Local newsNews

Karlien se ouers bly hoop ten spyte van uitdagings

Karlien se verpleging alleenlik beloop maandeliks meer as R20 000

Die jaar 2020 was uitmergelend met uitdagings wat mense onkant betrap het en veroorsaak het dat mense se lewens op verskeie maniere ontwrig is.

‘n Ouerpaar van die dorp wat hulself baie goed met die bogenoemde kan vereenselwig is Frikkie en Karen Roets, ouers van die breinbeseerde Karlien Roets (5).

Covid-19 het ‘n wurggreep geplaas op die gesin vermoë om deurentyd broodnodige fondsinsameling te doen.
Tog het hul elke dag gevat soos dit kom. Elke geringe teken dat hul liewe klein dogtertjie ‘n teken van beterskap toon het veroorsaak dat hulle, ten spyte van daaglikse struikelblokke, nooit moed verloor het nie.

Benewens die feit dat hul finansiële verpligtinge elke maand soos ‘n berg voor hulle lê is Karen baie positief oor die vordering wat Karlien maak.

“Ons was die naweek veral in vervoering toe Karlien deur middel van die geluidjies wat sy maak duidelik mamma of pappa gesê het.

“Ek kan nie beskryf wat dit vir my beteken het nie,” het Karen gesê.

Die kleintjie het breinbeserings opgedoen toe ‘n kas op 10 Augustus 2018 op haar geval het.Na maande in die hospitaal word sy sedertdien 24 uur per dag in haar ouerhuis in Dalview versorg.

Haar mediese sorg beloop maandeliks derduisende rande en haar ouers het voor die koms van Covid-19 gereeld fondsinsamelingsprojekte aangepak om kop bo water te hou.

“Ons moes uit die aard van die saak verlede jaar groot aanpassings maak en kon slegs op ‘n klein skaal fondsinsameling doen,” het Karen vertel.

“Met die aankondiging Sondag dat die land na vlak een van inperking skuif hoop ek dat dit vir ons nuwe geleenthede sal skep,” het sy bygevoeg.

Volgens Karen maak Karlien baie beslis goeie vordering.

“Sy is al die afgelope twee maande nie meer deurentyd afhanklik van suurstof nie. Sy kry wel nou en dan ‘n bietjie verkoue en dan moet sy weer suurstof ontvang maar oor die algemeen kom sy oor die weg daar sonder.“Dit beteken een minder masjien en dit maak dit makliker vir ons om haar te beweeg.

“Ons kon haar al twee keer self na ‘n oog kliniek in Alberton vervoer. (Karlien het in Desember ‘n operasie aan haar oog ondergaan).

”Daar is ook ‘n verstelling aan die ventilator gemaak om haar sodoende te stimuleer om self asem te haal,” het Karen verduidelik.

Karlien se verpleging alleenlik beloop maandeliks meer as R20 000; ‘n bedrag wat haar ouers self moet betaal.
Dit sluit nie ander behandeling en benodighede in nie.

“Daarom is dit vir ons nodig om deurentyd fondsinsamelings te hou,” het Karen gesê “Sonder die hulp en ondersteuning wat ons sedert die ongeluk van ons familie, vriende en die gemeenskap ontvang het, sou ons pad baie donker gelyk het.

“Ek en Frikkie is uit die diepte van ons harte baie dankbaar vir elke liewe skenking wat ons ontvang,” het Karen gesê.

So kan jy help

‘n Always Believe-pretloop word op 13 Maart vanaf 6vm tot 6nm aangebied. Belangstellendes kan 5km hardloop, draf of loop op die plek van hul keuse.

Die inskrywingsfooi is R30 per persoon.

Besoek www.karlienroets.co.za of skakel Karen by 074 963 8955 of stuur ‘n e-pos na info@karlienroets.co.za

Have a story?

Contact the newsroom by emailing: Thelma Koorts  (editor) brakpanherald@caxton.co.za or Stacy Slatter (news editor) stacys@caxton.co.za

 Remember to visit the Brakpan Herald on the following social media platforms: 

 Follow us:

     

 For more #hyperlocal news at your fingertips, visit Springs AdvertiserBoksburg AdvertiserBenoni City TimesAfrican Reporter

Related Articles

Back to top button