Editor's noteLocal newsNews

Bejaardes voel afgeskeep

Die meerderheid van die buiteligte, wat ook as straatligte dien, werk vir ’n geruime tyd nie meer nie.

Die inwoners van die Tweedy Park Kompleks sit met hul hande in hul hare en vrees vir hul veiligheid danksy die vlak van instandhouding wat tans by die kompleks heers.

Dit is veral die inwoners in die huise in die kompleks wat warm onder die kraag raak weens die gebrek aan dienslewering.

Die Tweedy Park Kompleks is die eiendom van die Stad van Ekurhuleni en volgens inligting daar die afgelope jaar bittermin tot geen instandhouding gedoen nie.

Dele van die kompleks is wel pynlik netjies, maar dit is waar die inwoners op hule eie onkoste self hul tuine in stand hou of tuindienste huur om dit te doen.

Die probleem is egter dat daar ongeveer 10 huise leeg staan. Die gras is baie lank en die onkruid groei dakhoogte.

Die strate tussen die huise is baie nouer as gewoonlik en op plekke groei die onkruid so welig in die pad dat motors beskadig word.

“’n Ambulans het onlangs een van die inwoners kom oplaai en die bestuurder was nie ingenome met die feit dat hy basies deur onkruid moes ry nie,” het een van die inwoners gesê.

“Dit is nie meer snaaks om gereeld rotte raak te loop nie en daar was ook nou die dag ’n slang by een van die wonings,” het Nico Oosthuizen (72), wat al die afgelope 12 jaar in die kompleks woon, gesê.

“In die 12 jaar wat ek hier bly het dit nog nooit so sleg gelyk nie,” het hy bygevoeg.

“Baie van die mense hier het nie grassnyers of kan nie bekostig om iemand te huur om die gras te laat sny nie,” het hy gesê.

Lees: Motorfietsryers bring groot vreugde aan bejaardes

Nog ’n probleem wat die inwoners ondervind is die feit dat die meerderheid van die buiteligte, wat ook as straatligte dien, vir ’n geruime tyd nie meer werk nie.

“Snags is dit pikdonker om ons. ’n Vrou het nou die aand in haar motorhuis vasgery, want sy kon niks sien nie,” het ’n inwoner vertel.

Marie Stockenström (83) wat die afgelope ses jaar in die kompleks woon, is net so raadop.

“Ek het al uit my eie sak ’n nuwe gloeilamp vir die lig, naaste aan my huis, gekoop, maar daar is vir my gesê dat daar ’n krag fout by die paal is.

“Dus is my huis saans in donkerte gehul, soos die meeste van die huise hier,” het sy gesê.

Volgens die inwoners val hul klagtes aan die Stad van Ekurhuleni op dowe ore.

“Dit is ook onaanvaarbaar dat so baie van die huise leeg staan. Daar is baie mense wat behuising soek en hier staan die plekke en vergaan tussen die onkruid,” het Oosthuizen gesê.

Die Herald het kommentaar van die Stad van Ekurhuleni versoek. Sodra dit ontvang word sal dit gepubliseer word.

Het jy ‘n storie?

Stuur ‘n e-pos aan: Thelma Koorts (Redakteur) brakpanherald@caxton.co.za

of Stacy Slatter (Nuus Redakteur) stacys@caxton.co.za

of Miné Fourie (Joernalis) minev@caxton.co.za

Onthou om die Brakpan Herald te volg op die volgende sosiale media platforms:

For more #hyperlocal news at your fingertips, visit Springs AdvertiserBoksburg AdvertiserBenoni City TimesAfrican Reporter

Related Articles

Back to top button