Editor's noteLocal newsNews

KYK: Man wat op graf bly in hospitaal opgeneem vir waarneming

Die familie het Dinsdagoggend by die graf opgedaag om hom te versoek om homself en sy besittings vanaf die graf te verwyder.

Die man wat vir die afgelope twee maande op ’n graf in die Brakpan begraafplaas gebly het, is Dinsdag verwyder en in ’n hospitaal opgeneem.

Die berig was verlede week op die Herald se voorblad (Hawelose skep tuiste op graf).

Volgens inligting, wat aan die Herald verskaf is, is Nicolas Masha (29) na die Verre Oosrand Hospitaal geneem waar hy vir toesig opgeneem is.

Daar sou daarna gepoog word om hom in die Sterkfontein of Weskoppies psigiatriese hospitaal te laat opneem.

Familielede van die agt persone wat in die mausoleum-tipe graf begrawe is, het eers bewus geword van Masha se doen en late nadat die berig in die Herald verskyn het.

Die familie het Dinsdagoggend by die graf opgedaag om hom te versoek om homself en sy besittings vanaf die graf te verwyder.

“Ons het te hore gekom van die persoon wat op ons familielede se graf bly en natuurlik was dit vir ons ’n groot skok,” het Lerato Sedibe, ’n familielid wat in Benoni woon, gesê.

“Dit het egter gou duidelik geword dat die persoon hulp nodig het en ons wens is dat hy die nodige hulp en bystand sal ontvang,” het Sedibe gesê.

Nicolas Masha is Dinsdag in die Verre Oosrandse Hospitaal opgeneem.

“Ons wil graag sien dat hy beter word,” het sy bygevoeg.

Toevallig het Masha se ma (51) op die selfde tyd saam met lede van die SAPD by die graf opgedaag.

Sy wou geen besonderhede oor haar seun verstrek nie en het ook versoek dat die Herald geen inligting oor haar publiseer nie.

Masha se besittings is uit en vanaf die graf verwyder.

Hy het rustig na ’n kraan gestap waar hy homself deeglik gewas het voordat hy onder bewaking van lede van die SAPD na die hospitaal geneem is.

Het jy ‘n storie?

Stuur ‘n e-pos aan: Thelma Koorts (Redakteur) brakpanherald@caxton.co.za

of Stacy Slatter (Nuus Redakteur) stacys@caxton.co.za

of Miné Fourie (Joernalis) minev@caxton.co.za

Onthou om die Brakpan Herald te volg op die volgende sosiale media platforms:

For more #hyperlocal news at your fingertips, visit Springs AdvertiserBoksburg AdvertiserBenoni City TimesAfrican Reporter

Related Articles

Back to top button