Editor's noteLocal newsNews

Koue water is bejaardes se lot

Pretorius het gesê dat hy gefrustreerd is met die munisipaliteit se onbevoegdheid om hulle werk te doen.

Die winter is beslis hier en vir baie mense van die dorp beteken dit moeilike tye.

Een persoon wat haarself beslis hiermee kan vereenselwig is Hester Botes (96), ‘n inwoner van die woonstelblok by die Tweedy Park Kompleks, wie nou reeds vir sewe maande sonder warm water in haar klein woonstel sit.

Die geiser in haar woonstel het onklaar geraak.

Die Herald het op 6 Maart vir die eerste keer berig oor die bejaarde se daaglikse stryd om ‘n warm bad te neem en skottelgoed te was. (Bejaarde sukkel al maande sonder warm water)

Nou, drie maande later, het niks verander nie en haar moed is in haar skoene.

Daar was wel pogings deur onder andere die Brakpan-tak van AfriForum om haar geiser te laat vervang.

‘n Geiser, wat geskenk is, was egter te groot en kon dus nie aangewend word om die stukkende een te vervang nie.

Die Demokratiese Alliansie (DA) se raadslid vir wyk 97 rdl Brandon Pretorius het ook ‘n geruime tyd gelede reeds die dilemma van tannie Botes, soos sy bekend is, onder die aandag van die behuising afdeling van Ekurhuleni gebring.

Maria Goldfaine (74) sukkel om haarself in ?n skottel in haar bad te was.

Die Tweedy Park Kompleks is die eiendom van die Stad van Ekurhuleni.

Dit is ook bekend dat daar ten minste 14 ander geisers buite werking is en dat dit meestal bejaarde inwoners sonder warm water laat.

‘In die somer was dit reeds ‘n groot beslommernis vir my, maar nou dat dit winter is kan ek net nie meer nie,’ het ‘n moedelose Botes Dinsdagoggend aan die Herald gesê.

Sy het destyds verduidelik dat sy ‘n verlengingskoord gekry het om ‘n ketel op ‘n kassie naby die badkamer te kook om sodoende te kan was.

‘Ek hou nie daarvan om met die ketel vol kookwater te loop nie, want my hande is swak en ek loop moeilik,’ het sy gesê.

Nog ‘n inwoner wat ook heeltemal raadop is, is Maria Goldfaine (74) wat die afgelope vier maande sonder warm water is.

‘Die geiser in my woonstel het opgepak en alhoewel ek dit gerapporteer het, is daar niks gedoen nie.

‘Ek hoop maar nou dat ons op vlak drie van die inperking is dat daar iets gedoen sal word,’ het Goldfaine in trane gesê.

Sy het twee rugoperasies gehad asook ‘n heupvervanging en verduidelik dat sy sukkel om in ‘n skottel in haar bad te probeer was.

”n Mens moet jouself tog elke dag reining. Ek kook maar die ketel en gooi water in ‘n skottel in die bad en probeer op dié manier gewas te kry.

‘Ek moes die week ook ‘n nuwe ketel koop. Die een wat ek gebruik het, het opgepak, seker omdat ek dit gedurig moes kook,’ het sy gesê.

Lees: Gebarste geiser laat bejaarde vir maande sonder warm water

Pretorius het gesê dat hy gefrustreerd is met die munisipaliteit se onbevoegdheid om hulle werk te doen.

‘Dit is nou al sowat ‘n jaar gelede dat die eerste foutiewe geiser aangemeld is.

‘Daar is ongeveer 14 geisers wat die afgelope jaar aangemeld is en steeds buite werking is.

‘Dit is kommerwekkend dat die meerderheid van hierdie geysers wat herstel moet word in die wonings van bejaardes bo die ouderdom van 70 is.

‘Die munisipaliteit se antwoorde bly egter dieselfde en leë beloftes kraai koning,” het Pretorius gesê.

‘Die verantwoordelikheid om hierdie herstel werk te doen lê juis by die munisipaliteit, omdat hulle die begroting daarvoor het.

‘Dit wil ook voorkom of die Covid-19-pandemie nou gebruik word as verskoning. Dit is nie aanvaarbaar nie aangesien die herstelwerk verlede jaar reeds gedoen moes word.

‘As die DA in Brakpan gaan ons aanhou druk op die munisipaliteit plaas asook steun op alle organisasies in die dorp wat bereid is om te help,’ het Pretorius gesê.

Het jy ‘n storie?

Stuur ‘n e-pos aan: Thelma Koorts (Redakteur) brakpanherald@caxton.co.za

of Stacy Slatter (Nuus Redakteur) stacys@caxton.co.za

of Miné Fourie (Joernalis) minev@caxton.co.za

Onthou om die Brakpan Herald te volg op die volgende sosiale media platforms:

For more #hyperlocal news at your fingertips, visit Springs AdvertiserBoksburg AdvertiserBenoni City TimesAfrican Reporter

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button