Editor's choiceLocal newsNews

Terapiehond ingespan om Karlien te help

Sy het eintlik ’n diep sug gegee toe sy die hond voel en haar hele lyfie het beweeg.

Die ouers van Karlien Roets (4), die dogtertjie wat met breinbeserings gelaat is nadat ’n kas in 2017 op haar geval het, glo steeds dat daar hoop vir hul kind is.

Die Herald het Maandag by Karlien se ouerhuis in Afrikanerweg gaan kuier.

Karen Roets het vertel dat die stamselbehandeling, wat Karlien aan die einde van Oktobermaand ontvang het, beslis ’n impak gehad het.

“Ons kan klein positiewe veranderinge agterkom,” het Karen gesê.

Lees ook: Video: Breinbeseerde kind (3) sal stamsel behandeling ondergaan

Sy het bygevoeg dat ’n tweede rondte stamselbehandeling aan die begin van Maart beplan word.

“Die behandeling is baie duur, maar dit is vir ons belangrik om alles moontlik te probeer om ons kind te help,” het Karen gesê.

Karlien is op 10 Augustus 2017 beseer toe ’n kombuiskas op haar geval het.

Haar pa, Frikkie, was besig om kaste in ’n nuwe kombuis in die huis te installeer.

Karlien het ’n los kas op haar omgetrek en het ernstige breinbeserings in die proses opgedoen.

Karlien Roets sal vanjaar weer stamselbehandeling ondergaan. Haar ma, Karlien en jonger sussie Nadine (23 maande), is saam met haar in die foto.

Na maande in die hospitaal word sy sedertdien tuis versorg, deur haar ouers en twee opgeleide helpers wat 24 uur per dag na haar omsien.

Volgens Karen reageer Karlien ook goed wanneer sy besoek ontvang van ’n vrywilliger en dié se terapiehond.

“Die Labrador was nou al drie keer hier en dit is verbasend om te sien hoe sy reageer wanneer die hond naby haar is.

“Saterdag het sy eintlik ’n diep sug gegee toe sy die hond voel en haar hele lyfie het beweeg,” het Karen vertel.

Die ouerpaar voel ook tevrede met die feit dat die ventilator, waaraan Karlien gekoppel is, op die laagste stelling nog is, en dat sy ook minder afhanklik is van die suurstof wat sy ontvang.

Karen is deurentyd besig om navorsing te doen oor moontlike behandeling vir haar kind en sy is gereeld in kontak met die ouers van kinders met dieselfde omstandighede.

“Dit help baie om met ouers te praat wie se kinders ook seergekry het. Ons deel raad en hoop en inligting en op ’n manier is dit baie ondersteunend,” het Karen gesê.

Die gesin se grootste uitdaging is die enorme uitgawes wat gepaardgaan met Karlien se behandeling.

“Ons het onlangs ’n groentetuin begin waar ek veral spinasie plant.

“Karlien kan vars kosse (wat verpulp word vir haar buisvoeding) inneem en ons het gereeld vars spinasie nodig.

“Dit is werklik kostebesparend en gerieflik om die spinasie self te kweek,” het Karen gesê.

Lees ook: VIDEO: Breinbeseerde kind (3) sterk nou tuis aan

Haar ouers kyk weer na verskeie fondsinsamelingsprojekte vir 2020 en ander projekte is deurentyd aan die gang.

“Ek moet vir almal, maar veral die gemeenskap van Brakpan wat ons tot dusvêr bygestaan het, ’n groot dankie sê.

“Ons gaan nooit moed verloor nie en danksy die ondersteuning van die mense om ons kan ons elke dag glo dat ons Karlien beter sal word,” het Karen gesê.

Persone wat enige van die projekte wil ondersteun kan Karlien se Facebookblad, Karlien Roets, besoek.

Het jy ‘n storie?

Stuur ‘n e-pos aan: Thelma Koorts  (Redakteur) brakpanherald@caxton.co.za

of Stacy Slatter (Nuus Redakteur) stacys@caxton.co.za

of Miné Fourie (Journalis) minev@caxton.co.za

Onthou om die Brakpan Herald te volg op die volgende sosiale media platforms:

 For more #hyperlocal news at your fingertips, visit Springs AdvertiserBoksburg AdvertiserBenoni City TimesAfrican Reporter

Related Articles

Back to top button