CrimeNews

Ma staan op vir baba, betrap byna inbrekers

Dit is ontstellend om te dink dat ek hulle kon betrap het toe ek bottel gaan maak het.

’n Vrou wat Dinsdagoggend vroeg vir haar ses-maande oue baba ’n bottel gaan maak het, het waarskynlik die inbrekers, wat reeds toegang tot haar erf gekry het, gesteur en verhoed dat hulle groter skade kon aanrig.

Die 34-jarige ma, wat versoek het dat haar naam nie gepubliseer word nie, het aan die Herald gesê dat haar baba huilerig was en dat sy ongeveer 3.30vm opgestaan het om vir hom ’n bottel te gaan maak.

“Ek het teruggekeer na my kamer en ’n vreemde geluid, soos ’n paal wat val, gehoor,” het die vrou vertel.

“Ek het my man wakker gemaak en hy het uitgegaan, net om te sien dat ons hek van die spoor gelig is.

“Daar het ook iets gelê, wat ons gedink het moontlik die gereedskap was wat die inbrekers gebruik het om die hek van die spoor te lig.

“Toe die SAPD opdaag het ons gesien dat dit eintlik die diefwering van ons sitkamer se venster was,” het die vrou gesê.

Lees ook: Vier inbrekers loop hul rieme styf, een gewond

By nadere ondersoek is daar vasgestel dat die inbrekers ’n groot platskerm televisiestel uit die sitkamer gesteel het.

“Daar moes ten minste twee mense in ons huis gewees het en dit is ontstellend om te dink dat ek hulle kon betrap het toe ek bottel gaan maak het,” het die vrou gesê.

Sy het ook bygevoeg dat haar man gekla het van ’n kopseer en dat hulle nie seker is of die booswigte iets in die huis gespuit het om hulle vas te laat slaap nie.

“’n Mens sou tog hoor as iemand diefwering afbreek, maar ons het niks gehoor nie,” het sy gesê.

Volgens haar is daar ook by die motorhuis ingebreek en is gereedskap, wat gevat is, in die erf opgetel.

“My man het ook in die straat afgekyk en ’n rooi voertuig verder af in die pad gesien.

“Hy kon nie die maak van die voertuig bepaal nie maar dit het weggery, vermoedelik toe die insittendes my man gewaar het,” het die vrou gesê.

Die saak word deur die Brakpan SAPD ondersoek.

Lees ook: Nagmerrie toe slapende broers deur inbrekers verras word

Het jy ‘n storie?

Stuur ‘n e-pos aan: Thelma Koorts  (Redakteur) brakpanherald@caxton.co.za

of Stacy Slatter (Nuus Redakteur) stacys@caxton.co.za

of Miné Fourie (Journalis) minev@caxton.co.za

Onthou om die Brakpan Herald te volg op die volgende sosiale media platforms:

 For more #hyperlocal news at your fingertips, visit Springs AdvertiserBoksburg AdvertiserBenoni City TimesAfrican Reporter

Related Articles

Back to top button