Editor's choiceLocal newsNews

Haar werk is haar plesier

Oor haar werk kan sy skaars uitgepraat raak.

Toe die 72-jarige Maria Etchells 27 jaar gelede by Sherwood Pick n Pay (toe bekend as Sentra) ingestap het om vir werk as ’n kassiere aansoek te doen, het sy nooit kon droom dat sy na soveel jare steeds elke dag vir werk sou opdaag nie.

Die opgewekte vrou, wat altyd ’n glimlag op haar gesig het, het deur die jare sinoniem met die winkel geword.

Nie net is sy ’n steunpilaar vir haar werkgewers nie, maar vir baie van die winkel se gereelde kliënte het sy ’n vriendin geword.

Sy is ook baie ingenome en opgewonde oor die feit dat sy nou die vier-jarige verjaarsdagvieringe saam met die huidige eienaars van Sherwood Pick n Pay kan vier.

“Ja, 27 jaar gelede het ek by die deur ingestap en begin as ’n kassiere. Later jare het ek ’n toesighouer geword en vir die afgelope agt jaar is ek ’n algemene assistent,” het sy vertel.

Oor haar werk kan sy skaars uitgepraat raak. Sy rammel ’n rits pligte, waarvoor sy daagliks verantwoordelik is, af en noem vinnig dat sy elke oomblik daarvan geniet.

Gevra of sy, met haar ouderdom in ag genome, nie moeg raak nie is die antwoord ’n blitsvinnige nee.

“Ek is wel meeste van die dag op my voete, maar wat gaan ek doen as ek by die huis gaan sit? Nee wat, ek verruil my werk vir niks op die aarde nie,” het sy gesê.

Lees ook: Sherwood Pick n Pay celebrates milestone

Haar eggenoot, Matthys is sewe jaar gelede oorlede en volgens haar is dit heeltemal te stil vir haar by die huis.

“Wanneer ek in die winkel is en heeldag mense om my het is ek dood gelukkig.”

Maria neem een keer ’n jaar ’n blaaskansie wanneer sy vir haar dogter, Amelia Fouche (52), in Australië gaan kuier.

Dat meeste van haar mede-werkers haar Gogo of tannie Maria noem is vir haar ’n pluimpie.

“Ek is mos nie meer vandag se kind nie,” lag sy.

“Ek het deur die jare ook spesiale verhoudings met baie mense opgebou.

“Soms sal mense hul harte teenoor my uitpraat en dan gee ek maar die beste raad wat ek kan.

“Die winkel is beslis my tweede huis en ek verruil dit vir niks nie.”

Het jy ‘n storie?

Stuur ‘n e-pos aan: Thelma Koorts  (Redakteur) brakpanherald@caxton.co.za

of Stacy Slatter (Nuus Redakteur) stacys@caxton.co.za

of Miné Fourie (Journalis) minev@caxton.co.za

Onthou om die Brakpan Herald te volg op die volgende sosiale media platforms:

 For more #hyperlocal news at your fingertips, visit Springs AdvertiserBoksburg AdvertiserBenoni City TimesAfrican Reporter

Related Articles

Back to top button