Editor's noteLocal newsNews

Video: Breinbeseerde kind (3) sal stamsel behandeling ondergaan

Karlien se ouers is baie opgewonde oor die behandeling.

Die ouers van die drie-jarige kind wat met ernstige breinbeserings gelaat is nadat ’n kas verlede jaar op haar geval het, het nog nie een dag opgehou glo dat daar steeds hoop vir hulle kind is nie.

Alhoewel Karen (28) en Frikkie (31) Roets massiewe finansiële uitgawes moet oorbrug, laat hulle geen steen onaangeroer om net die beste mediese sorg vir hul dogtertjie, Karlien, te bewerkstellig nie.

Karlien Roets is steeds aan ’n ventilator gekoppel.

Die gesin se nagmerrie het op 10 Augustus verlede jaar begin toe Frikkie kaste in ’n nuwe kombuis in die huis wou installeer.

Die plan was om die bestaande kombuis te verskuif na ’n plek waar dit vir Karen meer gerieflik sou wees om ’n ogie oor Karlien en die egpaar se ander kind, Nadine (1), te hou.

Frikkie het al die boor en skroewe in sy hand gehad toe Karlien ’n pakkie koekie mengsel in ’n kas, wat los was, wou plaas.

Karlien het die kas op haar omgetrek en nadat haar ouers dit onmiddellik van haar afgelig het, het daar bloed by haar neus en ore uitgeloop.

Die ouerpaar het besef dat hul kind baie seergekry het en het met haar na die Life Dalview Hospitaal gejaag.

Nadat Karlien gestabiliseer is, is sy later die aand na die Netcare Union-hospitaal in Alberton oorgeplaas.

Karlien se wangbeen was gebreek, maar die groot kommer was ’n fraktuur wat sy aan die agterkant van haar skedel opgedoen het.

Die kleintjie se ouers het vir ’n uitmergelende twee maande daagliks langs haar hospitaalbed gewaak en vele terugslae en min hoogtepunte beleef.

Dit was ’n blye dag toe Karlien op 16 Januarie vanjaar uiteindelik na haar ouerhuis kon terugkeer.

Sy word sedertdien in ’n ingerigte kamer in haar ouerhuis, in Afrikanerweg, versorg.

Dié maandelikse tuisversorging beloop R19 500 en die ouerpaar het verskeie projekte aan die gang in ’n poging om die enorme bedrag te dek.

Karen en Frikkie se hoop is egter nou gefokus op stamsel behandeling.

“Ons het begin navorsing doen oor stamsel behandeling vir Karlien se beseerde brein.

“Stamselle hou unieke herstellende eienskappe in en kan die beseerde dele in haar brein help om vinniger te herstel en dit kan ook die groei van nuwe selle aanhelp,” het Karen verduidelik.

“Die Suid Afrikaanse Stamsel Instituut in Parys, Vrystaat, is toe oor ons pad gestuur en hulle het Karlien se verslae bestudeer en ingestem om haar te behandel,” het Karen gesê.

Lees: Breinbeseerde kind (3) sterk nou tuis aan

“Ons is baie opgewonde oor die behandeling maar die kostes daaraan verbonde is groot en die eerste behandeling sal sowat R30 000 beloop.”

Om fondse vir dié doel in te samel het haar ouers met ’n projek “Happy Heals” begin.

Dit behels die verkoop van nuwe dames skoene teen ’n spotgoedkoop prys van R50 per paar.

Karen vertel ook dat haar kind onlangs in die hospitaal opgeneem is in ’n poging om haar minder afhanklik van die ventilator te maak.

“Sy is steeds permanent aan ’n ventilator gekoppel maar dit is nou op ’n verminderde stelling as die aanvanklike stelling,” het Karen gesê.

“Ons is dankbaar vir elke verbetering. Karlien slaag ook daarin om met tye, wanneer ons haar laat sit, haar koppie self regop te hou en sy skop ook gereeld haar beentjies.

“Sy ontvang nog steeds haar daaglikse terapie wat ook baie belangrik gaan wees na die stamsel behandeling,” het Karen verduidelik.

“Ons sal nooit ophou glo dat daar altyd hoop vir ons kind sal wees.

“Die finansiële las is swaar om te dra maar ons sal enigiets doen om vir Karlien die beste sorg te gee,” het Karen gesê.

Persone wat enige van die projekte wil ondersteun kan Karlien se Facebookblad, Karlien Roets, besoek.

• Secure Tech hou op 5 Oktober ’n musiekaand waartydens verskeie kunstenaars gaan optree by die Brakpan Rugby Pub. Meer besonderhede is ook op die Facebookblad beskikbaar.

Het jy ‘n storie?

Stuur ‘n e-pos aan: Thelma Koorts  (Redakteur) brakpanherald@caxton.co.za

of Stacy Slatter (Nuus Redakteur) stacys@caxton.co.za

of Miné Fourie (Journalis) minev@caxton.co.za

Onthou om die Brakpan Herald te volg op die volgende sosiale media platforms:

 For more #hyperlocal news at your fingertips, visit Springs AdvertiserBoksburg AdvertiserBenoni City TimesAfrican Reporter

Related Articles

Back to top button