CrimeEditor's noteNews

Fietsryer voor Plastic City aangeval, in gat gegooi

Riaan het egter baie groot lof vir die man, wat tot sy redding gekom het, gehad.

‘n 51-Jarige man van Sherwood Gardens het Donderdagoggend ernstige beserings aan sy gesig opgedoen toe hy voor Plastic City van sy fiets afgestamp en in ‘n diep gat, reg langs die pad (Main Reefweg),  beland het.

Riaan Hamann (51) is gelukkig dat ‘n weldoener sekondes na die voorval stilgehou en tot sy redding gekom het.

“Wie weet wat daardie twee mense, wat my aangeval het, aan my sou gedoen het. Ek glo hulle sou beslis my fiets  ook gevat het,” het Riaan Vrydagoggend sukkelend met ‘n stukkende mond vertel.

Riaan Hamann hurk in die gat langs Main Reefweg, waarin hy met sy fiets geval het.

Riaan, wat die afgelope 18 jaar in Jet Park werk, ry weens omstandighede fiets en dit is ook nie die eerste keer dat hy aangerand of van sy fiets beroof is nie.

“Ek ry in die oggende voor 6vm om  betyds by my werkplek uit te kom en ongelukkig is die pad verby Plastic City die kortste pad wat ek kan ry.

“Ek is maar oral op die uitkyk aangesien ek al drie keer tevore van my fiets beroof is (nie spesifiek by Plastic City nie),” het Riaan vertel.

Donderdagoggend was dit nog donker en met die straatligte wat nie werk nie, was dit vir Riaan ekstra moeilik om  die gevaar, wat vir hom gewag het, te sien.

“Ek het nog rustig getrap en die volgende oomblik het daar ‘n man vanuit nêrens verskyn.

Lees: Lemoene na kerk geslinger, vensters stukkend geskiet

“Die man het op my afgestorm en ek het uitgeswaai  en na die regter kant van die pad beweeg. Toe ek weer sien was daar nog ‘n man wat my, met geweld, van my fiets afgestamp het,” het Riaan vertel.

“Ek is nie seker of hulle dit so beplan het nie maar ek  en die fiets het in ‘n diep gat, wat reg langs die pad is, geval.”

Riaan vertel dat hy gesien het hoe sy aanvallers gepoog het om by hom uit te kom maar kort daarna, glo hy, het hy sy bewussyn vir ‘n oomblik verloor.

“Ek het met my gesig eerste in die gat geval en my bril het in die proses ook in die slag gebly.”

Riaan was baie gelukkig in die sin dat ‘n weldoener, in ‘n bakkie, stilgehou het en dat die aanvallers waarskynlik die hasepad gekies het.

Riaan Hamann moes verskeie steke binne in sy mond en ook aan sy gesig kry.

Die persoon het Riaan uit die gat, waarin daar klippe, ‘n bad en ander rommel was, gehelp en sy fiets op die bakkie gelaai, waarna hy Riaan na sy huis geneem het.

“Ek was in ‘n redelike toestand van skok en het nagelaat om die persoon se besonderhede te kry,” het Riaan gesê.

Sy skoonsuster, Magda Hamann, was nog by die huis en reëlings is getref om  vir Riaan, wat nie ‘n mediese fonds  het nie, hulp te kry.

Familielede het gesorg dat hy na ‘n privaat hospitaal kon gaan waar hy verskeie steke binne in sy mond, aan sy lip, sy wang en sy ken gekry het.

Vrydag het Riaan erg ongerief verduur en het hy met moeite aan die Herald beskryf wat gebeur het.

Riaan vertel dat sy tweeling broer, Johannes ook lank fiets gery het na sy werk plek maar toe hy so jaar en ‘n half ook by Plastic City aangerand is, het hy ‘n plan gemaak om ‘n voertuig te kry.

“My broer is met ‘n stok geslaan en sy fiets is gesteel.

“Die persone wat dit aan hom gedoen het, het ook aan hom gesê dat hulle hom sou dood maak indien hulle hom weer sien,” het Riaan vertel.

“Ek en my broer werk ongelukkig nie naby mekaar nie en daarom kan ek nie saam met hom ry nie.”

Riaan, wat vir ‘n paar dae nie sal kan werk nie, oorweeg nou sy opsies maar daar is nie veel nie.

“Ek sal dalk maar met die trein moet ry maar selfs dit is nie baie veilig nie.”

“Ek gaan ook ‘n nuwe bril moet kry want ek kan nie goed sonder my bril sien nie,” het Riaan gesê.

Het jy ‘n storie?

Stuur ‘n e-pos aan: Thelma Koorts  (Redakteur) brakpanherald@caxton.co.za

of Stacy Slatter (Nuus Redakteur) stacys@caxton.co.za

of Miné Fourie (Journalis) minev@caxton.co.za

Onthou om die Brakpan Herald te volg op die volgende sosiale media platforms:

 For more #hyperlocal news at your fingertips, visit Springs AdvertiserBoksburg AdvertiserBenoni City TimesAfrican Reporter

 

Related Articles

Back to top button