Editor's choiceLocal newsNews

Bekende in Brakpan se rugbykringe sterf

’n Bekende inwoner van die dorp, veral vanweë sy verbintenis met die Brakpan Rugbyklub en Stadsraad, is Sondagoggend dood na ’n sewe-maande stryd met kanker.

Tewie Roux (62) was ’n jarelange inwoner van die dorp, maar het ten tye van afsterwe in Ballito, KwaZulu-Natal gewoon.

Roux het in Brakpan grootgeword en skoolgegaan en het sy matriek aan die destydse HTS Brakpan geskryf.

Hy het vir die skool se eerste rugbyspan uitgedraf en ook Transvaalkleure verwerf vir amateurstoei.
Nadat hy sy twee-jaar diensplig voltooi het, het hy sowat 10 jaar vir sy pa, Tewie Roux snr, as bouer gewerk.

In 1986 is hy as bouinspekteur van die Brakpan Stadsraad (vandag Ekurhuleni Metro) aangestel.
Hy het die pos beklee tot en met sy aftrede.

Roux was baie lief daarvoor om gholf te speel, maar moes na ’n hartoperasie dit kalmer vat.

Lees: Geliefde motorversamelaar oorlede

Hy was ook ’n groot jagter en mense wat hom geken het, het geweet hy was altyd ’n grapmaker wat almal lekker kon laat lag.

By die Brakpan Rugbyklub het hy ook diep spore getrap.

Roux was die voorsitter van die klub van 2006 tot 2008.

“Tewie sal onthou word vir sy passie vir die spel en ook omdat hy in sy eerste jaar as voorsitter die klub gelei het na die nasionale klubkampioenskappe en ook weer in 2008,” het Harry Nieuwenhuis, voorsitter van die Brakpan Rugbyklub, gesê.

“Tewie sal voorts onthou word as ’n persoon wat rugby op klubvlak op ’n meer kommersiële basis bestuur het, maar beslis niks nagelaat om die spel na verdere hoogtes te neem nie,” het Nieuwenhuis bygevoeg.

Hy laat sy lewensmaat, Sonja Gericke, asook twee kinders, Francois Roux (43) en Nicolette Tew (40), asook vier kleinkinders na.

’n Gedenkdiens vind Vrydag, 14 Junie om 11vm vanuit die NG Kerk Brenthurst plaas.

Volg ons:

For more #hyperlocal news at your fingertips, visit Springs AdvertiserBoksburg AdvertiserBenoni City TimesAfrican Reporter

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button