CrimeEditor's choiceNews

Opvolg: Vyf gearresteer toe rowers in Dalview gestuit word

Volgens inligting van die SAPD het daar Vrydagmiddag ’n huisroof in Brenthurst plaasgevind en kort daarna is daar ook by ’n woning in Kenleaf ingebreek.

Misdadigers het Vrydagmiddag vir groot amok in die dorp gesorg maar danksy flinke optrede deur die SAPD is twee verdagtes Vrydag vasgetrek en na opvolgwerk is nog drie verdagtes Saterdagoggend in Soweto in hegtenis geneem.

Inligting oor die voertuig, wat moontlik by die Brenthurst huisroof betrokke kon wees, is bekend gemaak en ’n soektog na ’n silwer Renault Megane aan die gang gesit.

Adj-off Jan Roos, wat op die uitkyk was, is intussen ook verwittig van die inbraak by die woning in Kenleaf en het na die toneel gery om ondersoek in te stel.

Lees: Opvolg: Tweede persoon in arres na drama in Dalview (VIDEO)

Volgens inligting het hy die Renault Megane asook ’n grys-kleurige Alfa Romeo opgemerk wat vinnig gery het.

Dit het later bekend geword dat die Alfa Romeo by die woning in Kenleaf gesteel is.

In ’n jaagtog wat gevolg het, het die bestuurder van die gesteelde Alfa Romeo ’n bedelaar by die verkeerslig by VC Spar raakgery, waarna hy beheer oor die voertuig verloor het.

Die Alfa het in ’n voertuig, wat in die parkeerarea van die Herald se kantoor gestaan het, vas gejaag waarna die twee insittendes uitgeklim en weggehardloop het.

Die gebied is onmiddellik gefynkam en twee verdagtes is kort daarna in hegtenis geneem.

Die beseerde bedelaar, wat in die omgewing bekend is en ook los werkies doen, is met ’n gebreekte enkel na die Verre Oos-Rand Hospitaal vervoer. Hy sterk tans aan.

Lees: OPVOLG: Grootskaalse soektog steeds aan die gang, een persoon in hegtenis (VIDEO)

Die stilstaande voertuig, waarin die verdagtes vasgejaag het, behoort aan ’n verkoopskonsultant van die Bakpan Herald, Marcéll Kock. Groot skade is aan haar voertuig aangerig.

’n Verdere kinkel in die kabel is dat die eienaar van die gesteelde Alfa Romeo salig onbewus was van die feit dat daar by sy huis ingebreek is en dat sy voertuig gesteel en in ’n ongeluk betrokke was.

Donovan Whitfield (30) het Vrydagmiddag verby die ongeluk- en misdaadtoneel, op die hoek van Van der Waltweg en Eeufeeslaan, op pad na sy huis toe gery.

“’n Persoon wat saam met my was het opgemerk dat die beskadigde Alfa baie soos my kar lyk,” het hy gesê.

“Ek het omgedraai om te gaan kyk en het toe besef dat dit inderdaad my voertuig was. Ek is ook op die toneel meegedeel dat daar by my huis ingebreek is,” het hy bygevoeg.

Verskeie elektroniese toerusting is ook uit sy huis gebuit.

Lees: PAS IN: Grootskaalse soektog aan die gang na persoon beheer oor voertuig verloor en vlug

Whitfield het groot lof vir die Brakpan SAPD gehad.

“Ek is dankbaar dat die skuldiges vasgetrek is maar die wyse hoe die saak hanteer is en die diens wat ek ontvang het, is beslis noemenswaardig,” het hy gesê.

Adj-off Jan Roos het na Vrydag se gebeure inligting opgevolg en Saterdagoggend nog drie verdagtes in Soweto in hegtenis geneem.

Daar is ook beslag gelê op die silwer Renault Megane, wat volgens inligting, ook gesteel is.

Die vyf verdagtes sou die week op verskeie aanklagtes in die Brakpan Landdroshof verskyn.

Volg ons:

For more #hyperlocal news at your fingertips, visit Springs AdvertiserBoksburg AdvertiserBenoni City TimesAfrican Reporter

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button