Editor's choiceLocal newsNews

VIDEO: Breinbeseerde kind (3) sterk nou tuis aan

Die gesin se nagmerrie het op 10 Augustus verlede jaar begin.

Die dag toe ’n kombuiskas op ’n ouerpaar van die dorp se drie-jarige kind geval het, het nie net hul lewe onherroeplik verander nie, maar was dit ook die begin van ’n stryd waarvan niemand die uitkoms ken nie.

Die ongeluk het veroorsaak dat Karin (27) en Frikkie (31) Roets se lewenslustige blondekop dogtertjie, Karlien, met ernstige breinbeserings gelaat is en dat daar op meer as een geleentheid rede was om te glo dat hul kind die stryd gaan verloor.

Karlien word sedert die begin van die jaar in haar ouerhuis in Afrikanerweg versorg, in ’n ingerigte kamer, nadat sy sowat vyf maande in die hospitaal moes deurbring.

Die gesin se nagmerrie het op 10 Augustus verlede jaar begin, toe Frikkie kaste in ’n nuwe kombuis in die huis wou installeer.

“Ons was besig om ons ou kombuis te verskuif na ’n plek waar dit vir Karin meer gerieflik sou wees om ’n ogie oor Karlien en ons ander kind, Nadine (15 maande), te hou,” het Frikkie verduidelik.

Hy het al die boor en skroewe in sy hand gehad toe Karlien ’n pakkie koekiemengsel in ’n kas, wat los was, wou plaas.

Karlien en haar jonger sussie, Nadine (15 maande). Karlien was dol daaroor om met Nadine te speel.

“Frikkie het vir my gegil dat die kas op Karlien geval het en ons het dit dadelik van haar afgelig,” het Karin vertel.

“Ek het haar opgetel en daar het baie bloed by haar neus en ore uitgeloop.

“Ons het met haar na die Life Dalview-kliniek gejaag, waar sy onmiddellik behandeling ontvang het.

“Dit was benoude oomblikke, want dokters en verpleegpersoneel het in en uit die vertrek beweeg en ons het op daardie stadium geen idee van die omvang van haar beserings gehad nie,” het Karin vertel.

Nadat Karlien gestabiliseer is, is sy later die aand na die Netcare Union-hospitaal in Alberton oorgeplaas.

“Ons kind se wangbeen was gebreek, maar die groot kommer was ’n fraktuur wat sy aan die agterkant van haar skedel opgedoen het,” het Karin gesê.

Die beseerde kind is dieselfde aand nog na die Netcare Clinton-hospitaal se pediatriese hoësorgeenheid oorgeplaas.

Karlien Roets was ’n lewenslustige dogtertjie wat dit geniet het om buite te speel.

In die dae, weke en maande wat daarna gevolg het, het Karin en Frikkie wat beide vir ’n familieonderneming werk, slegs hul dogter se hospitaalbed verlaat wanneer hul deur hospitaalpersoneel versoek is om só te doen.

“Hoop het opgevlam toe sy na sowat ’n week van die ventilator afgehaal is en effens met ons kon kommunikeer.

“Maar die vreugde was van korte duur toe sy twee aanvalle (seizures) gekry het en dit veroorsaak het dat daar ’n aar in haar brein gebars het,” het Karin vertel.

Die kleintjie het onmiddellik ’n operasie ondergaan.

“Vir die volgende twee maande was dit ’n opdraande pad met min hoogtepunte. Ek en Frikkie het elke dag langs haar bed gewaak en moes deur baie emosies werk.

“Daar was dae wat ons gedink het dit gaan beter en dan was daar weer die kere dat die dokters vir ons gesê het dinge lyk nie goed nie.

“In dié tyd het ons gebid en mekaar ondersteun, maar ook sterk gesteun op die ondersteuningsraamwerk van ons vriende en familie,” het Karin gesê.

Karlien is na twee maande in die hoësorgeenheid na ’n rehabilitasiesentrum in Johannesburg oorgeplaas, maar op 29 Oktober, twee dae na haar derde verjaarsdag, was daar weer slegte nuus.

Die klein vegtertjie het ’n terugslag beleef en moes weer teater toe.

Karlien en haar ouers, Karin en Frikkie, by haar tweede verjaarsdagpartytjie.

“Dokters het vir ons verduidelik dat sy infeksie in die spinale vloeistof na die brein opgedoen het en dat ons ons vir die ergste moet voorberei.

“Maar ons het nie een dag ophou hoop nie en ten spyte van die feit dat daar min vordering in die herstelproses was, het ons geweet ons kind ook nie opgehou veg het nie,” het Karin vertel.

Die ouerpaar het intussen voorberei om hul dogtertjie huis toe te neem nadat sy vir twee maande in ’n koma was.

“Ons het begin om vir haar ’n kamer in te rig met al die toerusting en ’n hospitaalbed en dit was ook nodig om ’n professionele versorger vir haar te kry.”

Dit was ’n blye dag toe Karlien op 16 Januarie na haar ouerhuis geneem is.

Alhoewel sy steeds aan ’n ventilator gekoppel is en afhanklik is van ander mediese apparate, bly haar ouers positief.

“Ons sien elke dag die vordering wat sy maak en ons glo dat ons kind sal regkom,” het Karin gesê.

Sy kry weekliks arbeids-, fisio- en spraakterapie en Karin en Frikkie gesels soveel moontlik met haar.

Karin, wat die familieonderneming se boekhouding doen, het intussen haar kantoor na die huis verskuif sodat sy by haar kind kan wees.

Karlien Roets (3) saam met haar ouers, Karin en Frikkie, in die ingerigte kamer in haar ouerhuis.

Intussen doen sy soveel navorsing as moontlik oor haar kind se toestand en het sy reeds in verbinding getree met organisasies wat ondersteuning en hulp bied.

“Ons is bitter dankbaar dat ons tot op hierdie stadium kon doen wat ons het vir ons kind, maar die finansiële implikasies word nou ’n groot bron van kommer.

“Ons mediese fonds dek sekere aspekte, maar ons moet ook realisties wees en besef dat daar ’n punt gaan kom wanneer ons persoonlik finansieel sal moet bydra.

Karlien was nie skaam vir die kamera nie en was altyd gereed met ’n glimlag.

“Ons het reeds met fondsinsamelingsprojekte begin en ons besef maar al te goed dat dit die pad vorentoe gaan wees.

“Maar solank ons pragtige dogtertjie vir ons gespaar bly sal ons alles doen om vir haar die beste moontlike sorg te gee,” het Karin gesê.

Lesers wat meer inligting wil hê kan haar Facebookblad Karlien Roets of webblad www.Karlienroets.co.za besoek.

Volg ons:

Instagram
Twitter
Facebook

For more #hyperlocal news at your fingertips, visit Springs AdvertiserBoksburg AdvertiserBenoni City TimesAfrican Reporter

Related Articles

Back to top button