CrimeEditor's choiceNews

Huisrowers oorval bejaarde egpaar, kap man (80) met byl

Die 80-jarige man het aan die Herald gesê dat hy en sy vrou (78) in ’n tuinwoonstel agter die huis van hul seun woon.

’n Bejaarde egpaar van Wordsworthstraat, Dalpark, is Maandagoggend in hul kombuis deur vier huisrowers oorval terwyl hulle rustig gesit en tee drink het.

Al vier die rowers het skerp voorwerpe, vermoedelik byle, by hul gehad en die bejaarde man is ook beseer toe hy op een van sy vingers met ’n byl gekap is.

Die vier huisrowers het toegang tot die erf verkry deur die hek van die spoor af te lig waarna ’n veiligheids- en houtdeur van die hoofhuis oopgebreek is.

“Ek en my vrou was onbewus van wat aangaan en het ook niks gehoor nie.

“Ons het so 11.10vm se kant gesit en tee drink toe die vier mans by ons woonstel instorm.

“Ek kan nie baie goed sien nie, maar my vrou het vir my gesê dat hulle almal byle, kapmesse of ysters in hul hande gehad het,” het die bejaarde inwoner verduidelik.

Lees: Diewe breek muur af om motor se wiele te steel

Volgens hom het die mans vuurwapens en ammunisie geëis waarop hy gesê het dat hul nie so iets besit nie.

Een van die booswigte het die bejaarde daarna met ’n byl op een van sy vingers gekap.

“Ek kon darem daarin slaag om die paniekknoppie in die hande te kry waarna ek alarm gemaak het.

“Nadat ek dit gedoen het, het die vier mans genadiglik weggehardloop.”

Hulp het opgedaag en die bejaarde is op die toneel vir die kapwond aan sy vinger behandel.

“Dit het baie gebloei, maar dit was darem nie nodig vir steke nie.”

By nadere ondersoek is daar bevind dat verskeie items, ondermeer ’n televisiestel en gereedskap, uit die hoofhuis gesteel is.

Die voorval is by die SAPD aangemeld en word ondersoek.

Volg ons:

Instagram
Twitter
Facebook

Vir meer plaaslike nuus besoek Springs AdvertiserBoksburg AdvertiserBenoni City TimesAfrican Reporter 

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button