Editor's noteLocal newsNews

Polisievrou gaan nou voltyds ouma wees

Hierdie toegewyde polisievrou roep halt na 38 jaar, 11 maande en 15 dae.

Adjunkoffisier Sonja Roos, ’n toegewyde en passievolle lid van die SAPD, het gister (Donderdag) vir die laaste keer haar polisie-uniform aangetrek.

“Ek dink ek is een van min 56-jarige oumas wat daagliks met ’n vuurwapen in ’n holster aan haar been rondloop,” het Roos geskerts toe sy Vrydag vir oulaas met die Herald gesels het.

“Ek dink die tyd is reg dat ek nou rustiger raak en die dinge doen wat ek nog altyd wou doen, maar waarvoor daar nooit tyd was nie.”

Sy onthou haar eerste dag as ’n bangerige konstabel baie goed.

“Ek het my loopbaan by die Brakpan Polisiestasie begin en dit is ook waar ek dit na byna 39 jaar beëindig.

“My eerste dag sal ek nooit vergeet nie. Ek was maar skrikkerig, maar soos die jare gevorder het, het my passie gegroei vir die werk wat ek gekies het om te doen.”

Lees: Vyf motorfietse in plakkerskamp gevind

Sy vertel dat die misdaadlandskap 38 jaar gelede baie verskil het van vandag.

“Wanneer daar iets soos ’n moord plaasgevind het, het dit groot opslae gemaak. Vandag is dit ’n heel ander prentjie,” het sy vertel.

“Ek het op skool reeds besluit dat ek by die polisie wil aansluit en ek is nie vir een oomblik spyt oor die besluit wat ek geneem het nie.

“As ek alles kon oordoen, sou ek weer die pad stap wat ek gestap het.”

Sy vertel dat daar wel laagtepunte was, maar dat dit gelukkig oorskadu is deur die vele hoogtepunte.

“Wanneer daar negatiwiteit was, is dit uitgeskakel wanneer ons ’n sukses behaal het of ’n positiewe verskil in iemand se lewe gemaak het.”

“Dit was ook bevredigend om, deur middel van die toekennings wat ons ontvang het, erkenning te kry vir die werk wat ons gedoen het.”

Roos was die afgelope paar jaar deel van die taakspan, waarvan haar eggenoot, adjunkoffisier Jan Roos (47), ook ’n lid is.

Die aard van haar werk het veroorsaak dat sy deur die jare telkens benoude oomblikke beleef het.

“Daar was tye wanneer ek (ons) in groot gevaar verkeer het en dan is ’n mens net te dankbaar wanneer jy veilig na jou huis en jou geliefdes kan terugkeer.”

“Dit het my egter nooit laat voel om op te hou of op te gee nie.

“Ek dink my passie vir die werk was net doodeenvoudig te groot.”

Lees: Trio Task Team always get their man

Deur die jare het sy ook te make gehad met gru tonele en omstandighede, maar die een wat haar altyd sal bybly is toe Jasmin-Lee Pretorius (4) op 28 Desember 2013 vermoor is deur haar oom.

“Dit is ’n saak wat my altyd sal bybly. Ons het daardie lewelose kind ontdek en ons het ook die skuldige (haar oom) vasgetrek,” het Roos vertel.

“Daardie aand was een van die aande wat ek beslis nie geslaap het nie.”

Roos sê dit gaan vir haar ’n baie groot aanpassing wees om na soveel jare nie te werk nie.

“Maar ek gaan dit geniet. Ek wil tyd saam met my drie kleinkinders, Amoné (4), Ziancko (18 maande) en Janri (3 maande) spandeer.

“Ek wil ook kreatiewe dinge aanpak en my tuin mooi maak.

“Die aksie sal ek altyd mis, maar vir nou is dit tyd om rustig te raak.”

Volg ons:

Instagram
Twitter
Facebook

For more #hyperlocal news at your fingertips, visit Springs AdvertiserBoksburg AdvertiserBenoni City TimesAfrican Reporter 

Related Articles

Back to top button