Editor's noteLocal newsNews

Geliefde motorversamelaar oorlede

’n Inwoner van die dorp, wat deur die jare bekendheid vir sy indrukwekkende versameling veteraan motors verwerf het, is Saterdagoggend oorlede.

Wanneer Tom Grobler (83) agter een van sy klassieke motors ingeskuif het, was hy op sy gelukkigste en dit is ook hoe sy vriende en familie hom sekerlik sal onthou.

Oom Grobler, soos hy alom bekend was, het vir 59 jaar saam met sy vrou Driekie (81) in Northdenelaan gewoon voordat hulle ’n tuiste in die Frank Mynhardt Sorgsentrum gevind het.

Die Herald het al verskeie kere berig oor die liefhebber van veteraan motors en antieke meubels, wie graag sy kennis en passie met ander gedeel het.

Hy het op ’n stadium sowat 20 veteraan voertuie besit.

Hierdie 1930 Ford Model A was een van oom Tom Grobler se gunstelinge.

Volgens ’n familielid was sy gunsteling egter ’n 1930 Ford Model A waarmee hy al te graag rondgery het.

Weens sy groot voorliefde vir mooi veteraan motors het Oom Grobler in 2011 by die Just Wheels Motorklub aangesluit.

Dié klub het sy ontstaan in 2010 gehad, wat van oom Grobler een van die langsdienende lede van die klub gemaak het.

Lees: Onderwyser wat kankerstryd verloor word vandag begrawe

Hy het in Augustus 2017 ook ere-lidmaatskap van die klub ontvang.

As gevolg van sy ouderdom en welstand het dit met tyd nodig geraak om van sy voertuie ontslae te raak, ’n taak waarmee die Just Wheels Klub ook behulpsaam was.

Ten tye van sy afsterwe het hy egter nog, volgens ’n familielid, vier of vyf van sy voertuie gehad.

Tydens ’n onderhoud wat die Herald in 2016 met Oom Grobler gehad het, het hy trots vertel dat hy in die sewentigs begin het om veteraan motors te koop en te restoureer.

Soms het dit tot vier jaar geneem om ’n projek te voltooi.

Hy het vertel dat mense dikwels gedink het dat daar geen hoop was om van die ou motors wat hy aangeskaf het tot hulle volle glorie te herstel nie maar hy het dit telkens reggekry.

Deur die jare het hy dit ook geniet om inwoners van die dorp en buurdorpe te help wanneer daar gesoek is na ’n spesiale vervoermiddel vir ’n troue, matriekafskeid of ander spesiale geleentheid.

Vier van sy spog voertuie wat hy deur die jare gerestoureer het. Sy voertuie het altyd groot belangstelling by motorskoue uitgelok.

Min mense weet dat hy ook die stigter van die Brakpan Duiweklub was en dat die ingenieursfirma, Summit Engineering wat hy in 1980 op die been gebring het, steeds bestaan.

Benewens sy vrou Riekie laat hy ook twee dogters Ralie Cloete (58) en Trienie Holloway (49) asook vier kleinkinders en een agter-kleinkind na.

’n Gedenkdiens word Vrydag (22 Februarie) om 10vm vanuit die AGS Kerk Betesda vir Oom Grobler gehou.

Volg ons:

Instagram
Twitter
Facebook

For more #hyperlocal news at your fingertips, visit Springs AdvertiserBoksburg AdvertiserBenoni City TimesAfrican Reporter

Related Articles

Back to top button