Local newsNews

KYK: Motors, huise beskadig toe reuse boom val

Groot skade is Donderdagmiddag laat aan ‘n huis en voertuie in Brenthurst aangerig toe ‘n massiewe Bloekomboom tydens ‘n hewige storm omgeruk is.

Die inwoners van twee huise, wat langs mekaar in Prince Georgelaan geleë is, is dankbaar dat niemand beseer is toe die reus van ‘n boom geval het nie.

Patrick Addison (30) wat in Prince Georgelaan 806 woon vertel dat hy ongeveer 6nm in die slaapkamer van die huis was toe hy ‘n harde slag gehoor het.

“Toe die boom die huis se dak tref was die krag ook onmiddellik af aangesien kragpale ook deur die vallende boom omgeruk is,” het Patrick vertel.

Verskeie vensters in die huis is gebreek of gekraak en skade aan ten minste vier voertuie, wat in die erf geparkeer was, is aangerig. Die voormuur is ook platgeval.

Lees ook: Wind ruk motorhuis dak gedeeltelik af

‘n Groot tak het deur die enjinkap van ‘n Alfa Romeo gedring en ook die enjin beskadig.

‘n Hyundai Santa Fe, wat voor in die erf geparkeer was, was skaars sigbaar en skade aan die voertuig kon eers Vrydag later bepaal word nadat takke, wat daarop gelê het, kleiner gesny en verwyder is.

Die Hyundai Santa Fe is erg beskadig.

Patrick se bure het ligter afgekom en skade aan hul huis was minder ernstig.

Jacques en Ilzá Barnard woon die afgelope vyf maande in die huis te 808 Prince Georgelaan en het aanvanklik gedink dis ‘n vragmotor wat die pad verlaat het en die rumoer veroorsaak het.

“Ons het ‘n besoeker gehad, wat minute voordat die boom geval het, vertrek het. Sy voertuig sou beslis beskadig gewees het en ons is dankbaar dat niemand seergekry het nie.

Die Barnard’s se twee kinders, Zilka (9) en Zion (8) kon Vrydagoggend nie skool toe gaan nie, aangesien die oprit versper was en die hek nie kon oop nie.

Zilka en Zion Barnard kon Vrydag nie na hul skool vervoer word nie en moes maar tuisbly.

Marinda Combrink, Ilzá se ma het groot lof gehad vir almal wat opgedaag het om te help.
Die nooddienste, werknemers van Ekurhuleni, lede van die GPF asook die publiek was binne minute voor ons huise.

“Daar was mense wat tot 3vm, Vrydagoggend onverpoos gewerk het om die boom opgesny te kry,” het Marinda gesê.

‘n Dik tak het deur die enjinkap van die Alfa Romeo geboor en groot skade aan die enjin aangerig.

Die opruimingswerk het Vrydag voortgeduur.

Sy het egter haar kommer uitgespreek oor ander groot bome wat voor die huise staan en etlike jare oud is.

“Die boom wat geval het ,is na aanleiding van die ringe in die bas, stokoud en dit was ook vol termiete,” het Marinda gesê.

Dele van die dorp is Donderdagmiddag getref deur ‘n storm wat gepaard gegaan het met harde reën en hael asook sterk wind.

Die Stoffberg duikweg was binne ‘n oogwenk weer ontoeganklik vir motoriste en is vir ‘n geruime tyd gesluit.

Volg ons:

For more #hyperlocal news at your fingertips, visit Springs AdvertiserBoksburg AdvertiserBenoni City TimesAfrican Reporter

Related Articles

Back to top button