CrimeNews

Dief kry toegang tot huis onder valse voorwendsels

’n 33-jarige inwoner van Brenthurst is van haar juwele kwyt nadat ’n booswig haar aandag met ’n slim slenter afgetrek het.

Nita Pieters het onlangs by haar huis in Prince Georgelaan ’n klere verkoping gehou toe ’n man en vrou opgedaag het en CD’s aan haar probeer smous het.

“Die paartjie het my gevra of ek nie goedere by hulle wil koop nie, waarop ek geantwoord het dat ek nie belangstel nie,” het Pieters vertel.

“Die man het gevra of hy die toilet kan gebruik, maar ek het hom geweier en die vrou is intussentyd na die bure se huis toe.

“Die man het toe gevra of ek nie ander goedere, soos selfone of juwele verkoop nie.

“Terwyl die man buite gewag het, het ek ’n stukkende foon gaan haal, wat ’n nuwe battery benodig het.

Lees ook: Bejaarde inwoner nooi diewe in haar huis

“Hy het die foon uitmekaar gehaal en die battery weer teruggesit en toe daarop aangedring om die foon te laai by ’n muurprop, voor hy die stukkende selfoon sou koop,” het die vrou vertel.

“Nadat die foon vir ’n rukkie gelaai het, het hy weer gevra om dringend die toilet te gebruik. Ek het hom toegelaat terwyl ek gou ander mense gehelp het wat klere wou koop.

Toe ek terug in die huis gaan waar die foon gelaai het, het ek agtergekom dat die man in my ma se kamer was en dat daar aan haar juweelkissie gepeuter is.

“Ek het hom gekonfronteer en nadat hy belowe het dat hy niks gevat het nie, het ek hom aangejaag en gesê dat hy moet betaal vir die goed wat hy wou koop en liewer sy ry moet kry.

“Later, toe ek alles in die huis terugbring het, het ek besef dat ’n horlosie, ring en nog ander juwele tog gesteel is.

“Dit is tóé eers dat ek besef het ek het ’n dief in my huis toegelaat,” het die vrou vertel.

Volg ons:

Instagram

Twitter

Facebook

For more #hyperlocal news at your fingertips, visit Springs AdvertiserBoksburg AdvertiserBenoni City TimesAfrican Reporter

Related Articles

Back to top button