Editor's choiceLocal newsNews

In die kollig: Leer vir Petra Ahlers ken

Petra Ahlers is in die kollig die week.

Petra Ahlers (37) is ’n hulp offisier van die Brakpan Voortrekkers. Sy is getroud met Rudi en hulle het drie kinders, Katinka (7), Katryn (4) en Petrus (15 maande). Die gesin woon in Dalpark.

Petra Ahlers.

Hoe lank is jy al betrokke by die Voortrekkers en hoe het jy betrokke geraak?

’n Vriendin van my, Magda Steyn, het bietjie meer as ’n jaar gelede een middag vir my vertel dat die Voortrekkers van voornemens is om ’n kommando in Brakpan op die been te bring en dat ons na die inligtingsaand moet gaan. Daar het hulle toe offisiere vir al die verskillende ouderdomsgroepe aangewys.

Waar pas jy in en wat is jou doel of verpligtinge by die Voortrekkers?

Aangesien daar nie ’n offisier vir die Bytjies aangewys is nie, het ek en nog ’n goeie vriendin van my, Chriska Ebersohn, albei met kinders in die ouderdomsgroep van die Bytjies, besluit ons sal aanbied om die Bytjies se offisier en hulp offisier te wees. Chriska is nou die offisier en ek die hulp offisier. Sy bied die lesse aan en ek help met die admin van die groep asook enigiets wat ons mag benodig vir die lesse.

Wie kan by die Voortrekkers aansluit?

Alle laerskool kinders is welkom om by die Voortrekkers aan te sluit.

Wat is die voordele daaraan verbonde?

Die Voortrekkers bied ’n besondere geleentheid aan kinders om interessanthede te ervaar. Hulle leer van nuwe dinge en verrig sekere take ten einde kentekens te verwerf om sodoende ’n beter begrip van onderwerpe te ontwikkel. Hulle behandel nogal interessante onderwerpe soos dierekennis, noodhulp, veldkook en nog vele meer.

Wat sal jy vir iemand sê, wat van mening is dat dit outyds en dalk ’n mors van tyd is?

Mens kan net oor jou eie ervarings praat. In my geval sou ek sê dat die Voortrekkers geleenthede vir my gesin bied om dinge te leer en te doen wat ons nooit by sou uitkom nie. My kinders het in die een jaar wat hulle nou Voortrekkers is onder andere geleer om kleilat te gooi, om top te gooi, om onder die sterre te fliek, om skyf te skiet, om buite speletjies te speel, om ’n tent op te slaan en om ’n vuur aan te pak om so, oor die oop vuur, kos te maak, om sonder krag op ’n kos begroting van R60 vir die hele naweek te kamp, en om die Voortrekkermonument te besoek en om tot heel bo te klim. Hulle het van plante geleer, van padveiligheid, dierekennis, noodhulp en van interessante versamelinge. My sewe-jarige het geleer om, eiehandig, ’n hele partytjie te beplan van die uitnodiging tot vir haar gaste eetgoed maak. Die lys kan nog aangaan en aangaan en aangaan. Die kort en die lank van die saak is vir my dat die Voortrekkers vir ons, as gesin, weer herinner het aan wat dit vir kinders is om kinders te wees. Ons, as ouers, kan, deur saam by die Voortrekkers in te skakel, interessante ervarings saam met ons kinders beleef.

Dink jy die jeug van vandag spandeer te veel tyd op hul selfone en voor die televisie?

Ek weet dat tegnologie ’n wesenlike werklikheid is. Ons, as ouers, kan ons kinders help deur ’n gesonde balans aan te kweek om al die tegnologiese middele wat tot hul beskikking is, te bestuur. Ek sê nie kinders moet geheel en al weg gehou word van alles af nie, maar kinders moet nie al hul tyd op selfone en voor die televisie spandeer nie.

Wat is jou beroep?

Webwerf ontwerper

Het jy enige stokperdjies?

Ek bied kinderkunsklasse in die Dalview area aan. Dis vir my ’n besondere passie om kuns met kinders te deel.

As jy vir ’n week op ’n eiland moet oorleef en net vyf items saam met jou mag neem, wat sal dit wees?

My gesin, my Bybel, my kunssak, ’n knipmes en vislyn met ’n hoek.

Wat is jou mening oor die feit dat die gebruik van dagga deur volwassenes in private plekke nou wettig is?

So baie mense is opgewonde daaroor. Ek het gemengde gevoelens daaromtrent, want waar trek ’n mens die streep? Dis nou wel net vir private gebruik toelaatbaar, maar ons almal weet tog dat mense nie daarby sal hou nie.

Wat dink jy is die grootste probleem waarmee ons land te make het en wat sou die oplossing wees?

Ek dink ’n goeie beginpunt sou wees om ons meer doelgerig op onderwys en gesondheidstelsels toe te spits. ’n Georganiseerde, funksionele finansiële stelsel sal ’n stap in die regte rigting wees om as broeikamer vir ’n werkende jeug te dien. Terselfdertyd kan dit na hulle wat eens hul plig gedoen het om ons tot die hede toe te versorg, om te sien.

Wat is jou gunsteling gereg?

’n Bekende slaghuis in die dorp se kaaswors en ’n ewe bekende winkel se slaptjips saam op ’n bord.

Waaraan sal jy jou mond nie sit nie?

Afval.

Wat laat jou lekker lag?

As my kinders oulik is en grappies maak.

Lees ook: Jong Voortrekkers besoek die DBV

Volg ons:

Instagram
Twitter
Facebook

For more #hyperlocal news at your fingertips, visit Springs AdvertiserBoksburg AdvertiserBenoni City TimesAfrican Reporter 

Related Articles

Back to top button