Editor's choiceNewsSchools

Laerskool Dalview se koor pluk vrugte van harde werk

Daar was Sondagaand (8 Julie) groot opgewondenheid toe die Laerskool Dalview se senior koor met hulle eerste deelname aan die gewilde Sing in Harmonie-koorkompetisie na die eindronde deurgedring het.

Chanelle Kaufmann, dirigent van dié koor, het gesê dat sy dit nie verwag het dat die koor as episodewenners aangewys sou word nie maar dat sy baie trots is op die prestasie.

Kaufmann het drie jaar gelede die skool se koor op die been gebring toe sy as musiekonderwyser by die Laerskool Dalview aangesluit het.

Volgens haar is daar nou ook ’n klompie rugbyspelers van die skool wat deel van die koor is.

“Ek is vanjaar baie trots op ons koor,” het Kaufmann laat hoor.

Sy sê die beoordelaars van Sing in Harmonie het die koor se klank as “verskriklik mooi” beskryf.

Die Dalwer koor is Sondagaand tydens die sesde episode van die sesde seisoen van Sing in Harmonie as die wenkoor van die betrokke episode aangewys.

Die eindronde van dié reeks van Sing in Harmonie, waarvan die eerste episode op 3 Junie op kykNET NOU (DStv-kanaal 146) uitgesaai is, sal in September uitgesaai word.

Sing in Harmonie is Anthonie Bougas van Supersterre-faam se breinkind.

Dit is tans die grootste skoolkoorkompetisie in Suid-Afrika, gemeet aan televisieblootstelling, pryspakette en aantal inskrywings.

Lees ook: Laerskool Dalview se Thandi palm die medaljes in

Vanjaar is daar 150 kore landwyd wat deelneem.

“Die kompetisie het hierdie jaar geweldig gegroei,” het Bougas gesê.

“Kore wat deurdring na die finaal is op ’n hoë standaard en harde werk spreek vanself.

“Ek dink Sing in Harmonie skep ’n nuwe platform vir kore regoor ons land en as gevolg van televisie-dekking, kry koorleiers ook nou die geleentheid om hulle te meet aan ander kore tydens die uitsendings,” het Bougas gesê.

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) ondersteun dié koorkompetisie ook vanjaar vir die tweede agtereenvolgende keer.

Johan Jansen van Vuuren, projekbestuurder van die FAK, het gesê die FAK tree op as trotse kultuurvennoot van Sing in Harmonie.

“Die bevordering van koormusiek is vir die FAK baie belangrik. Deelnemers ontvang FAK-sertifikate, die wenkore ontvang FAK-trofees en FAK-Sangbundels word uitgedeel. Die bevordering van koormusiek is die sleutel tot jeugontwikkeling en taalgrense,” het Jansen van Vuuren gesê.

Volg ons:

Instagram
Twitter
Facebook

Related Articles

Back to top button