Editor's noteLocal newsNews

Stoffie matrikulant en ouer broer sterf saam in ongeluk

Twee broers van die dorp wat onafskeidbaar was en ’n baie hegte band gedeel het, is Saterdagaand (9 Junie) saam in ’n motorongeluk in Springs oorlede.

Armand Brits (33) en sy jonger broer Ruan (17) is opslag dood toe die bakkie wat Armand bestuur het Saterdagaand ongeveer 10.30nm in Zig Zagweg buite beheer geraak en gerol het.

’n Vriend van die twee broers, Lajos van Zyl  (ouderdom onbekend), is ook tydens die ongeluk oorlede.

Armand se vrou Anita (27) het ernstige beserings aan albei haar arms opgedoen.

Sy sou Dinsdag ’n operasie ondergaan om die frakture aan haar arms te herstel.

Volgens Armand en Ruan se ma, Alette Brits (52) van Stasieweg, was haar twee seuns baie geheg aan mekaar.

Lees ook: Motorfietsongeluk eis oud-inwoner

“Die een kon nie sonder die ander nie en ek dink die Here het geweet dat die een nie sonder die ander een sou kon lewe nie,” het ’n hartseer Alette gesê.

’n Groot geraamde foto van die twee broers staan in die sitkamer van Armand se huis in Hendrik Potgieterlaan, Dalview.

Ruan was ’n matrikulant aan die Hoërskool Stoffberg, wat volgens sy ma skyfskiet vir die skool gedoen het.

Armand en Anita het drie jong kinders – Llewellyn (8), Weylin (7) en Shanté (3).

Die twee broers het ook ’n ouer broer, Quinton (36) en suster, Bernadette (25). Ruan se pa, Hennie, woon in Boksburg.

Teen druktyd was die begrafnisreëlings nog nie gefinaliseer nie.

Volg ons:

Instagram
Twitter
Facebook

Related Articles

Back to top button