Editor's choiceLocal newsNews

Leer vir Sanette Bosman van die Brakpan DBV ken

Sanette Bosman is in die week se kollig.

Sanette Bosman (34) is die voorsitter van die Brakpan DBV se komitee. Sy is verloof aan Marius Butler en het twee seuns, Brandon Bosman (12) en Lee James Butler (7). Die gesin woon in Brakpan-Noord.

• Jy is die voorsitter van die DBV se komitee. Hoe het jy betrokke geraak en waarom?

Ek het die uitnodiging vir komiteelede op die Brakpan DBV se Facebook-blad gesien, die eerste vergadering bygewoon en van daar af het ek met hart en siel ingespring. Ek het nog altyd ’n passie gehad om ’n betekenisvolle diens in die gemeenskap te lewer en het uiteindelik my passie by die DBV gevind. Diere het nie ’n stem nie en dit is ons as mens se verantwoordelikheid om hulle stem te wees.

Dink jy daar word genoeg gedoen om mense wat diere mishandel vas te vat?

In my opinie, nee. In meeste gevalle kry die mense ’n tikkie oor die vingers, indien dit sovêr vorder.

Dit is ’n algemene tendens dat die DBV (nie net in Brakpan nie) sukkel om kop bo water te hou. Hoe kan die publiek help?

Elke bietjie help en ons waardeer die gemeenskap se ondersteuning. Elke fondsinsameling bring geld in, party meer as ander, maar ’n stabiele inkomste is ons uiteindelike doel, deur middel van debietorders, lidmaatskap en gereelde donasies. Die publiek help graag met hondekos en komberse, maar fondse word benodig vir veeartsonkostes, brandstof vir voertuie asook instandhouding, werknemers se salarisse en so meer.

Hoeveel troeteldiere het jy?

Ek het drie hondjies, Leedon (twee jaar), Benji (10 maande) en ons het onlangs vir Lucy (drie maande) by die DBV aangeneem.

Wat is jou gunsteling wilde dier en waarom?

Vandat ek kan onthou was en is dit nog altyd ’n tier. Hulle kom magtig en sterk voor met ’n heersende teenwoordigheid maar ek vind iets dieper in hulle oë. Bygesê, hulle is pragtig.

Wat is jou beroep?

Bestuurder (interne verkoopsbestuurder).

Hoe spandeer jy graag jou vrye tyd?

Ha-ha, daar is nie iets soos vrye tyd vir my nie! Wanneer ek wel ’n kans kry, kyk ek graag my gunsteling sepies.

• Indien jy die geleentheid kry om in ’n ander land te gaan woon, sal jy dit oorweeg?

Ek het na hoërskool in Amerika gaan au-pair en sal oorweeg om terug te keer ter wille van ’n toekoms vir my kinders.

• Jy kan saam met enige vyf mense ’n middagete geniet. Wie sal jy nooi en waarom?

Local is lekker. Brigadier Fredl Jonck, stasie bevelvoerder van die Brakpan SAPD; Ming Church, die DBV bestuurder; ’n hoof van ’n skool; ’n verteenwoordiger van ’n kinderhuis asook ’n politieke party. Ek sal graag kommunikasiekanale wil vestig tussen verskeie rolspelers in ons gemeenskap om in Brakpan ’n veiliger toekoms te bied vir alle gemeenskapslede, kinders en diere.

• Wat sal ’n mens altyd in jou handsak vind?

Ek gebruik bitter min ’n handsak, maar is nooit sonder my “Labello lip-ice” nie.

Wat is die laaste fliek wat jy gekyk het?

Tad: The Lost Explorer.

Wat is die laaste boek wat jy gelees het?

Cases of Lieutenant Kane deur E.H. Reinhard.

• Beskryf jouself in vyf woorde.

Net vyf? Respekvol, vriendelik, gedetermineerd, passievol en kompleks.

Wat weet min mense van jou?

Ek was vir agt jaar ’n SAPD reservis in Brakpan.

Lees ook: Leerders samel fluks kos in vir die DBV

Volg ons:

Instagram

Twitter

Facebook

Related Articles

Back to top button