Local newsNews

Organisasies wat ander help trek noustrop

Twee van die dorp se welsynorganisasies gaan kragte saamsnoer, in ’n poging om voor die winter broodnodige verligting vir arm en hawelose mense van die dorp te bring.

Rata (voorheen die Ondersteuningsraad) en Tutela (voorheen die Christelik Maatskaplike Raad) het hande gevat om saam ’n winterprojek aan te pak.

Die twee organisasies hoop om binne die volgende twee weke soveel moontlik warm jasse en komberse in te samel, om dit op 16 Junie aan behoeftige mense van die dorp uit te deel.

Naomi Mostert van Rata het gesê dat die nood werklik baie groot is.

“Dit is geen geheim dat die winter op hande is nie en dat bitter koue aande gaan kom,” het sy gesê.

Lees ook: Rata het hulp nodig

“Daar is mense wat saans op straat slaap en baie van hulle het nie ’n kombers vir beskerming teen die koue nie.

“Ons het vroeër in die week ’n vrou by ons kantoor gehad wat plakkies gedra het en kom vra het vir warmer skoene.

“Dit gaan baie swaar met baie mense,” het Mostert gesê.

Volgens haar word dit ook ’n daaglikse stryd om kospakkies aan talle mense, wat om hulp aanklop, te voorsien.

“Ons het die publiek en besighede se hulp nodig om ons in staat te stel om ander te help.”

Persone wat skenkings wil maak kan dit by Rata se kantoor te Parkstraat (skuins oorkant die ou biblioteek) of by Tutela se kantoor wat te Northdenelaan 106a geleë is, aflaai.

Volg ons:

Instagram
Twitter
Facebook

 

Related Articles

Back to top button