Editor's noteLocal newsNews

Jong Brakpanner is baie tuis voor die kameras

WAARSKUWING: Alhoewel die video onder aan die berig net ‘n toneel uit die kort film, The Unthinkable is, mag dit sensitiewe kykers ontstel.

’n 10-Jarige blondekop inwoner van die dorp is vinnig besig om vir haarself naam te maak danksy haar groot liefde vir toneelspel en drama.

Carla Shönfeldt, van Sunair Park, is te sien in die fliek Gebore Talente, ’n fliek met ’n Christelike boodskap.

Die première was onlangs by die Woord en Lewe-gemeente in Boksburg.

Sy het die rol daarin reeds drie jaar gelede losgeslaan, toe oudisies daarvoor gedoen is.

Die draaiboekskrywer en vervaardiger, Renier Weideman het Carla by Laerskool Die Arend raakgesien toe sy nog ’n sewe-jarige haasbekkie was.

Carla se ma, Lilani Potgieter (32) vertel dat meer as 600 dogtertjies destyds oudisies vir die rol afgelê het en dat die vreugdevure hoog gebrand het toe Carla die hoof kinderakteur rol losgeslaan het.

Sy het die kollig gedeel met bekende name in die vermaaklikheidsbedryf soos Bouwer Bosch en Angelique Gerber Potgieter.

Carla is hier te sien saam met die bekende aktrise Angelique Gerber Potgieter tydens die première van Gebore Talente.

Sy het sedertdien ook rolle vertolk in drie kort films wat deur drama studente van Wits vervaardig is.

In een van die films, met die titel The Unthinkable, vertolk Carla ’n baie intense rol van ’n kind wat deur ’n hond aangeval en verskeur word.

‘n Toneel uit die kort film The Unthinkable.

“Ek het die film baie geniet,” vertel Carla.

Alhoewel haar karakter sterf het sy die grimeringsessies, waar die wonde nagemaak is, baie geniet.

Carla se grimering word gedoen tydens die verfilming van die kort film The Unthinkable.

Lilani het in haar kind se entoesiasme oor die kort film gedeel maar het te kenne gegee dat sommige van die tonele haar keel so bietjie laat toetrek het.

“Dit is nou wel net ’n film, wat op ’n baie professionele wyse vervaardig word, maar om jou eie kind `bebloed’ en erg `beseer’ te sien is ’n aardige ondervinding.” het sy gesê.

Volgens haar is Carla altyd besig om te perform.

“Sy geniet dit werklikwaar baie.”

Carla neem ook die afgelope twee jaar dramaklasse by die bekende Cillie Cilliers.

Haar talente strek egter veel verder as dié van ’n jong aktrise.

Sy het onlangs met groot welslae aan die South African Championships of Performing Arts deelgeneem.

Vanjaar was die derde agtereenvolgende jaar dat sy deelgeneem het.

Sy het in 30 items deelgeneem en het ’n verbysterende 26 medaljes ontvang vir die verskillende komponente waaraan sy deelgeneem het.

Sy het 17 goud, sewe silwer en twee brons medaljes ontvang.

Carla is ook gekies as lid van die span om Suid-Afrika in Julie te te gaan verteenwoordig by die Wêreldkampioenskappe vir die uitvoerende kunste in Los Angeles, Amerika.

Sy het oor die afgelope drie jaar ’n totaal van 62 medaljes by die South African Championships of Performing Arts bymekaar gemaak.

Dit sluit in 34 goud, 18 silwer en 10 brons.

“Ons het nog nie ’n finale besluit geneem oor Carla se deelname aan die Wêreldkampioenskappe nie aangesien die kostes daaraan verbonde ’n baie stewige bedrag beloop,” het Lilani gesê.

Carla se jonger sussie, Noevé, ’n graad een leerder, het vanjaar ook vir die eerste keer aan die South African Championships of Performing Arts deelgeneem en heeltemal goed gevaar.

Carla en haar jonger sussie Noevé, het vanjaar ook vir die eerste keer aan die South African Championships of Performing Arts deelgeneem en heeltemal goed gevaar.

Sy het 10 medaljes, wat vier goud, vyf silwer en een brons ingesluit het, huis toe gevat.

Beide die twee kinders is leerders aan Laerskool Die Arend.

• Daar is vir Carla ’n “BackaBuddy”- rekening geopen om te help met fondse vir haar deelname aan die Wêreldkampioenskappe in die Los Angeles.

Belangstellendes kan www.backabuddy.co.za/champion/project/carla-performing-arts-la besoek.

Lees ook: Morries se hoofseun woeker met sy talente

Volg ons:

Instagram
Twitter
Facebook

Related Articles

Back to top button