Editor's choiceLocal newsNews

Bejaarde sorg dat skoolkinders veilig bly

By die Laerskool Môrewag verloop sake egter so ietwat anders danksy die onbaatsugtige hulp van ’n bejaarde inwoner van die dorp.

 

Dis geen geheim dat verkeer rondom die skole van die dorp elke oggend en middag erg besig raak en die veiligheid van skoolgaande kinders maar altyd ’n kwelpunt bly.

Leerders en ouers van dié skool word daagliks begroet deur ’n vriendelike en behulpsame vrou wat sorg dat die kinders die besige Muriel Brandstraat veilig kan kruis.

Ria Harper (67) is sedert die begin van die jaar elke oggend dou voor dag op haar pos om kinders by ’n voetoorgang voor een van die skool se hekke te help.

In die middae doen sy dit weer en vir haar is dit geen moeite nie.

Inteendeel, die vriendelike vrou, wat ook die afgelope vier jaar ’n lid van die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum is, geniet elke oomblik van die taak wat sy met groot liefde verrig.

Ria is reeds 6.40vm in die oggende op haar pos en dit pla haar glad nie dat die koue winteroggende voorlê nie.

Sy wag tot so 8vm en maak doodseker dat al die kinders veilig oor die pad is voordat sy vertrek en met haar dagtake voortgaan.

In die middae is sy weer vanaf so 12.45nm tot 2nm, met haar glimbaadjie en wit handskoene, op haar pos.

Ria Harper (67) is daagliks op haar pos voor die Laerskool Môrewag.

“Ek is baie lief vir kinders,” vertel die inwoner van Brenthurst.

“Dit is vir my ook belangrik om besig te bly. Ek glo nie daarin om stil te sit nie. As ek vir vyf minute op die bank sit en niks doen nie dan voel dit net nie vir my reg nie,” het sy vertel.

Haar oggende begin eintlik om 4vm wanneer sy opstaan en vir iemand, wat nie vervoer het nie, op ’n plek gaan aflaai.

Lees ook: Eerste Brakpan Parkrun beïndruk

Daarna gaan sy gou terug na haar blyplek om ’n paar dingetjies af te handel voordat sy na die skool vertrek.

“Die kinders is wonderlik. Hulle groet my en ek kry daagliks baie meer as net een drukkie.

“Die leerders het werklikwaar ’n baie positiewe gesindheid teenoor my.

“Selfs die ouers en ander motoriste is ook teen die tyd heeltemal bewus van my en niemand raak ongeduldig wanneer ek die verkeer tot stilstand bring sodat die kinders die pad kan kruis nie.”

Ria vertel dat sy nog net een keer met ’n ongeduldige motoris te make gehad het.

“Dit was ’n baie ongeduldige vrou, wat geweier het om stil te hou en sommer so onder my arm deurgery en my gevloek het.”

“Ek het maar, toe sy verby my gery het, vir haar gesê dat ek lief is vir haar.”

Wanneer Ria nie tyd by die skool spandeer nie kook sy kos vir behoeftige mense.

“Ek help maar waar ek kan. Dit is vir my, veral op my ouderdom, belangrik om besig te bly en om terug te ploeg in die gemeenskap is bevredigend,” het Ria gesê.

Die hoof van die Laerskool Môrewag, Elna Venter het gesê dat sy en die personeel van die skool groot waardering het vir die tyd wat Ria opoffer.

“Die veiligheid van ons kinders is altyd ’n prioriteit en ons is dankbaar vir die diens wat sy lewer,” het Venter gesê.

• Weet jy van iemand wat sy of haar tyd opoffer om ander op een af of ander wyse te help? Stuur ’n e-pos met inligting na brakpanherald@caxton.co.za

Volg ons: 

Instagram
Twitter
Facebook

Related Articles

Back to top button