CrimeEditor's noteNews

Huisrowers rand jong mense aan, slaan hondjie dood

Vier jong mense is Vrydagaand deur gewapende rowers in ’n huis in Prince Georgelaan oorval, aangerand en met die dood gedreig.

 

’n Klein Toy Pom hondjie wat in die huis was en te veel geblaf het, is dood nadat een van die booswigte dit met ’n moersleutel teen die kop geslaan het.

’n 21-Jarige vrou wat saam met drie mans (twee is 30 jaar oud en een is 32 jaar oud) in die huis was het vertel dat die nagmerrie net na 8nm begin het.

“My ouers het gou gery om kos te gaan koop en ek en my vriend en nog twee ander vriende het in die sitkamer gesit en gesels.”

Volgens haar was die deur nie gesluit nie en die volgende oomblik het vier rowers by die deur ingebars.

Twee van die mans het vuurwapens gehad en die ander twee was onderskeidelik met ’n bobbejaan-spanner en moersleutel gewapen.

“Ons vier honde wat in die huis was, het begin blaf en een van die gewapende rowers het ’n skoot afgevuur.”

“Die Toy Pom het steeds lawaai gemaak, waarna een van die rowers dit met die moersleutel geslaan het.”

“Daar is vir ons gevra waar ons selfone is en een van die rowers het gesê dat ons doodgemaak sal word as ons iets probeer doen.”

Die booswigte het ’n televisie in die sitkamer ontkoppel en ook na ’n slaapkamer gegaan waar hulle nog ’n televisie, skootrekenaar en persoonlike items gevat het.

Lees ook: Huisrowers bind jong man vas, steel na hartelus

Angsvolle oomblikke het vir die vier jong mense gevolg toe hulle beveel is om op die vloer te gaan lê, waarna hul hande agter hul rue vasgemaak is met elektriese draad.

“Die rower wat die skoot afgevuur het was deurentyd by ons terwyl die ander drie in die huis rond beweeg het en nog goed, onder andere drank uit ’n versameling, gevat het.

“My vriend se motorsleutels is ook afgeneem maar gelukkig het hulle nie sy voertuig gevat nie.”

Op ’n stadium het die drie rowers, wat die goed in die huis bymekaar gemaak het, na buite beweeg.

“Die gewapende rower het agter gebly en gevra of daar vuurwapens en kontant in die huis was.”

“Ons het gesê nee, waarna hy op ons almal se koppe getrap het en gesê het dat ons nie moet beweeg nie.

“Hy het ook aangedui dat hulle op pad was na die bure toe.

“Dit het stil geraak en my een vriend kon homself los gewikkel het.

“Hy het versigtig na ’n venster beweeg om te kyk of die rowers weg was. Op dié stadium het my ouers terug gekeer.”

Die SAPD is ontbied en die voorval word tans ondersoek.

Volg ons:

Instagram
Twitter
Facebook

Related Articles

Back to top button