CrimeEditor's choiceNews

Bejaarde inwoner nooi diewe in haar huis

’n 75-Jarige goedhartige inwoner van Trollipstraat, Brenthurst is Saterdag lelik ingeloop deur ’n jong paartjie wat by haar huis opgedaag het.

Die bejaarde inwoner het nie dadelik besef dat sy haarself blootstel deur vreemdelinge in haar huis toe te laat nie maar het na die tyd besef dat sy ’n groot fout begaan het.

“Die twee jong mense was so vriendelik en netjies aangetrek dat ek nie vir een oomblik onraad vermoed het nie,” het sy gesê.

“Ek wil graag ander mense waarsku om nie in dieselfde strik as ek te trap nie. Ek het besittings verloor maar dit kon veel erger gewees het,” het die vrou bygevoeg.

Sy vertel dat die jong man en vrou net na 2nm by haar huis aangeklop het.

“Ek was eintlik op pad uit en my beursie en selfoon was in ’n sak naby die voordeur.

“Hulle het vriendelik gegroet en die man het gevra of hy die toilet kan gebruik. Die vrou het vir water gevra.

“Ek het saam met haar na die kombuis gestap en die man is na die badkamer.

“Hulle het my daarna gevra wat ek doen en ons het nog ’n rukkie gesels voordat hul verskoning gemaak en gery het.”

“Ek het my sak geneem en na ’n supermark gegaan. Eers toe ek by die betaalpunt kom het ek gesien dat die R800 kontant, wat in my beursie was, nie meer daar was nie. My selfoon is ook uit die sak gesteel.

“Dit is tóé eers dat ek besef het dat ek twee diewe in my huis toegelaat het,” het die vrou vertel.

Volgens haar het die paartjie in ’n klein blou motor gery.

Sy het die Brakpan SAPD ook oor die voorval ingelig.

Lees ook: Moet nie vir die man se skelmstreek val nie

Volg ons:

Instagram
Twitter
Facebook

Related Articles

Back to top button