BlogsOpinion

In die kollig

Talita Lombard (33) is die organiseerder van die Oos-Rand Kunstefees. Sy is enkellopend en woon in Brakpan-sentraal.

• Vertel meer van die Oos-Rand Kunstefees?

Die Oos-Rand Kunstefees is ’n sang- en danskompetisie. Dis amper ’n Eisteddfod maar met ’n “twist”. Ons gee ons deelnemers die geleentheid om te groei maar ook om soos ’n “celeb” te voel. Daar is verskillende sangstyle waarin hulle kan deelneem. Ook in die dansafdeling het ons verskillende dansstyle waarin hulle kan deelneem. Wat die fees anders maak is die feit dat ons volgens temas werk en die jaar se tema is “Toeka se dae”.

• Wie kan aan hierdie kunstefees deelneem en hoe moet hulle te werk gaan?

Ons verwelkom almal, vanaf kleuterskool deelnemertjies tot volwassenes. Enige persoon wat ’n passie vir dans of sang het, maar hulle mag nie professioneel dans of sing nie. Die deelnemers mag nie ’n afrigter wees of deur ’n agent verteenwoordig word of ’n kontrak met ’n platemaatskappy hê nie. Ons wil juis ’n platform vir nuwe talent skep.

• Wat het jou laat besluit om so ’n fees op die been te bring?

As jong meisie waar ek in kunswedstryde en kompetisies deelgeneem het, het ek altyd gedroom om eendag my eie kompetisie aan te bied. Kompetisies het my oor die jare sterker gemaak en ek wil dit ook vir ander bied.

• Jy sing self. Watter tipe musiek verkies jy om te sing?

Ek is ’n Gospelsanger wat baie van my eie liedjies skryf. Ek sing ook graag liedjies uit “musicals” en films en Afrikaanse musiek lê my ook baie na aan die hart.

• Enige ander talente waarmee jy kan spog?

Ek is ’n kinder-evangelis en kan maklik klein woelwaters van graad nul tot sewe om my pinkie draai. Ek skryf ook baie leesmateriaal vir kerke asook vir myself. Ek het ook my eie sangskool en musiek-klank studio waarop ek baie trots is. Ek gee opleiding vir jong en ouer sangers in enige musiekstyl.

• Wie is jou gunsteling sanger en sangeres plaaslik en internasionaal?

Daar is baie, maar my rolmodel was nog altyd Janita Claasen, wat oorlede is, maar sy sal altyd ’n gunsteling in my hart bly.

Plaaslik sal ek moet sê Theuns Jordaan en Bobby van Jaarsveld. Wat die dames betref is dit Juanita du Plessis, Liezel Pieters en Jenifer Zamudio. Internasionaal definitief Blake Shelton en Scotty McCreery.

• Van watter tipe musiek hou jy glad nie?

Ek is nie baie lief vir jazz of cabaret nie maar dis iets wat ek aanvaar het. Maar metal is een tipe musiek waarvan ek niks hou nie.

• Speel jy enige musiekinstrumente?

Ek speel geen instrumente nie alhoewel ek Graad Een Trinity College klavier het. My sang/musiekjuffrou het my destyds uitgevang dat ek nooit in my boek gekyk het nie, maar haar vingers nageboots het en dit so gememoriseer het en dan gespeel het. Toe vra sy wil ek sing of speel toe kies ek natuurlik die sing. Vandag is ek spyt ek het nie aangegaan met die klavierlesse nie maar dit was nie my passie nie. Ek wou net sing.

• Wat is jou beroep?

Ek is ’n sangonderwyseres, kinder-evangelis en sangeres.

• Waar sien jy jouself oor tien jaar van nou af?

Dit is ’n moeilike vraag maar ek hoop dat ek oor 10 jaar ’n paar jong talente opgelei het en deel kon maak van my sangskool as mede-onderwysers. Ek hoop ook dat Oos-Rand Kunstefees dan al ’n huishoudelike naam geword het.

• Op wat sal jy geld spandeer sonder om twee keer te dink?

Ek kan aan ’n paar goed dink maar definitief ’n mooi Afrikaanse CD en mooi glase en borde vir die kombuis.

• Watter vyf woorde sal jou die beste beskryf.

Hardwerkend, perfeksionisties (in my werk), gefokus, waaghalsig en doelgerig.

Lees ook: In die kollig

Die volgende Kollig is op …

Stuur jou voorstel vir ’n Kollig persoon na brakpanherald@caxton.co.za

Follow us:

Instagram
Twitter
Facebook

Related Articles

Back to top button