Editor's choiceLocal newsNews

Geen tekort aan liefde in die huwelik

’n Mooier liefdesverhaal as dié van Roelf (73) en Daleen (69) Kruger, wat môre (Saterdag) hul 50ste huweliksherdenking vier, sal nie maklik te vinde wees nie.

Dié opgewekte egpaar het vroeër die week oor hul geseënde lewe en huwelik gepraat en was baie opgewonde oor die vooruitsig om hul groot dag môre saam met vriende en familie te geniet.

Beide is die afgelope sowat vier jaar inwoners van die Frank Mynhardt Sorgsentrum en alhoewel hulle in apparate afdelings woon spandeer hulle elke kosbare minuut van die dag saam.

Daleen, wat in 2013 twee hartaanvalle oorleef het, het ekstra versorging nodig en Roelf woon in die afdeling waar inwoners nog selfversorgend is.

“Ons is nou wel van bed geskei maar ons eet en kuier darem nog elke dag saam,” het ’n vriendelike Daleen vertel.

Hul pad saam het in Nelspruit begin toe hulle mekaar vir die eerste keer gesien het.

Roelf vertel dat hy sy jonger sussie, Sanet, aangepor het om vir Daleen te vra of sy met hom sal uitgaan.

“Sanet het ingestem om dit te doen maar sy het dit so bietjie deurmekaar gehad en vir Daleen gesê ek wou met haar trou,” vertel Roelf.

“Ons lag tot vandag toe nog te lekker daaroor.”

’n Op en wakker Roelf neem elke oggend vir sy vrou koffie in die bed. Daarna stoot hy haar in haar rolstoel na die eetsaal waar hulle saam ontbyt nuttig.

“Dan kuier ek vir die res van die oggend in haar kamer tot middagete en later die middag stoot ek haar na my kamer waar ons televise kyk.”

Die egpaar is duidelik steeds dol oor mekaar en die liefde en respek straal behoorlik uit hulle uit.

Dit is dan juis ook hul resep vir hul lang en gelukkige huwelik.

“Sonder liefde en respek kan jy maar vergeet maar dit is ook belangrik om vir mekaar spasie en vryheid te gee,” sê Roelf

Volgens Daleen is dit ook baie belangrik om nooit te gaan slaap as jy kwaad is vir mekaar nie.

“Die lewe is baie kort en dit is nie die moeite werd om te baklei of vir mekaar kwaad te wees nie.

Die egpaar het twee kinders Roelf (45) en Malanie (48) asook vier kleinseuns.

“Ons is so dankbaar dat ons die Here in ons lewe het en dat Hy ons vir mekaar gespaar het om so ’n groot mylpaal in ons lewe te bereik,” het Roelf gesê.

 

Lees ook: By hierdie winkel sal jy ‘n winskoop kry

Tyd vir pret in die son is amptelik hier

Neem ‘n Kersfoto vir die Herald se voorblad

 

Volg ons: 

Instagram
Twitter
Facebook

Related Articles

Back to top button