CrimeNews

Diewe steel tuk-tuk – laat dit in die veld

Talle inwoners van die dorp wat daagliks op Johan Scheepers (49) en sy borriegeel tuk-tuk  vir vervoer staatmaak was vanoggend (Maandag) gestrand.

Dié tuk-tuk, wat ’n algemene gesig in die dorp geword het, is in die vroeë oggendure gesteel.

Johan en sy lewensmaat, Annamarie Theron (55), se verligting was egter groot toe dit net na 11vm in ’n veld naby hul woning in Grantstraat gevind is.

Die vervoermiddel, wat die bynaam van Noddy gekry het, sorg nie net vir ’n inkomste vir Johan nie maar bied ook ’n uitkoms vir talle mense sonder vervoer.

Die Herald het in Junie vanjaar oor die tuk-tuk berig wat die strate van die dorp deurkruis om skoolkinders, bejaardes en Jan Alleman betyds by hul bestemmings te kry.

Diewe het in die vroeë oggendure toegeslaan en panele van die voormuur is verwyder om sodoende toegang tot die erf te verkry.

’n Groot gemotoriseerde hek is daarna oopgeforseer en die tuk-tuk is uit die erf gestoot.

Johan, wat werkloos was, het aan die begin van die jaar twee tuk-tuks aangeskaf om ’n inkomste te genereer.

’n Toegewyde Johan werk sewe dae ’n week, soms vanaf 5vm tot so laat as 10nm.

“Ons het ons gereelde kliënte wat hul ritte by my bespreek en ons het sedertdien baie vriende gemaak,” het Annmarie gesê.

’n Baie verligte Johan het gesê dat daar wel ’n bietjie skade aan die tuk-tuk is, maar dat hy baie dankbaar is dat Noddy teruggevind is.

Lees ook: Dié bromponie brul nog met koedoehorings en al

Nuwe wiele vir die “kos-tannie”

Follow us:

Instagram
Twitter
Facebook

Related Articles

Back to top button