Local newsNews

Unieke pop ingespan vir die silwerdoek

Geen detail word ontsien wanneer sy 'n pop maak nie en die “babas” het selfs aartjies en velskakerings wat baie natuurlik lyk.

‘n Inwoner van die dorp, wat lewensgetroue poppe skep, is onlangs genader om ‘n pop te maak, wat in ‘n rillerfliek gebruik word, wat môre (Vrydag) in sekere teaters begin draai.

Die pop sal dien as ‘n dubbelganger vir die regte baba in die fliek, Siembamba, wat ‘n ouderdomsbeperking van 18 jaar het. Die skepping van die poppe (“reborn”-babas), soos Janita Strydom (37) van Minnebron se poppe bekendstaan, is geen nuutjie vir haar nie maar sy is nietemin baie opgewonde dat een van haar “babas” op ‘n filmstel gebruik is.

Sy beoefen die stokperdjie reeds vir die afgelope vyf jaar en in dié tyd het sy vele harte met haar lewensgetroue poppe verbly.

Verlede jaar het sy 95 poppe gemaak en Doebai is maar een van die lande waarheen sy al ‘n pop gestuur het.

“Ek het die stokperdjie by ‘n familielid aangeleer en het eendag die geleentheid gehad om my eie pop te maak,” het Janita vertel.

“Die gogga het net daar gebyt, alhoewel ek vir die eerste paar maande net “reborn”-feetjies gemaak het.”

“Daar was egter ‘n groot aanvraag na `reborn’-babas en ek het my daarop begin toespits.”

Janita vertel dat sy die stokperdjie slegs beoefen wanneer tyd dit toelaat en dat dit tussen vier tot ses weke neem om ‘n pop te voltooi.

Sy vertel die moeilikste gedeelte van die proses is om die haartjies met ‘n naald aan die kop te heg.

“Die poppe se haartjies word letterlik een-een met ‘n naald ingewerk en dit is baie tydrowend.”

Geen detail word ontsien wanneer sy ‘n pop maak nie en die “babas” het selfs aartjies en velskakerings wat baie natuurlik lyk.

Die poppe voel soos regte babas en wanneer iemand ‘n bestelling plaas kan hulle versoek wat die haarkleur en kleur van die oë moet wees.

Janita vertel dat sy die poppe slegs op bestelling maak en dat sy hierdie tyd van die jaar veral baie navrae kry.

Sy vertel dat sy in Junie 2016 ‘n oproep van André Frauenstein van Phoenix Films gekry het en dat hy toe navraag oor ‘n pop gedoen het om as ‘n dubbelganger vir die baba in Siembamba te dien.

“Ons het die wiel aan die rol gesit en op 23 Augustus verlede jaar het ek die pop by Phoenix Films gaan aflewer, waar ek ook die hoofaktrise in die film, Reine Swart en die akteur Deanré Reiners ontmoet het.

Nadia Scott, hoof van bemarking by Phoenix Films het gesê dat die baba in Siembamba Liam heet en dat Janita gesorg het dat die pop wat gebruik is lewe kry.

“Ons is baie trots om haar handewerk in Siembamba te kon gebruik,” het Scott gesê.

Janita het gesê dat sy beslis die fliek gaan kyk.

“Ek moet darem sien hoe my “baba” op die silwerdoek lyk.

Meer foto’s:

Lees ook: 12 Movie Mistakes That Slipped Through

6 things you need to know about Friday the 13th

Monday Motivation: Bulldog reacts to scary movie

Volg ons:

Instagram
Twitter
Facebook

Related Articles

Back to top button