Editor's choiceLocal newsNews

Ouers praat na hul seun op motorfiets sterf

Die lewenslustige tiener was verlede Woensdagoggend op pad na die Hoërskool Stoffberg, waar hy rekordeksamen sou skryf, toe die ongeluk plaasgevind het.

Die St Peters Anglikaanse Kerk het Dinsdagoggend uit sy nate gebars toe gesinslede, familie, vriende en kennisse afskeid geneem het van Dayne Irving (17), wat verlede Woensdagoggend in ’n motorfietsongeluk oorlede is.

Lees: Bekende besigheidsman se seun sterf in motorfietsongeluk

Dayne was die enigste seun van die bekende sakeman, Mark Irving. Irving is die eienaar van Extreme Pets, wat hy reeds vir die afgelope 20 jaar besit.

Die lewenslustige tiener was verlede Woensdagoggend op pad na die Hoërskool Stoffberg, waar hy rekordeksamen sou skryf, toe die ongeluk plaasgevind het.

Volgens inligting het hy in Stasieweg gery toe hy na bewering ’n munisipale bus, wat in Hastingslaan wou draai, getref het.

Dayne is op die toneel dood verklaar.

Mark Irving het Maandag gesê dat sy kind motorfiets gery het vandat hy vier jaar oud was.

“Hy het vir motorfietse geleef en was ’n baie bekwame bestuurder.

“Ek sou nooit my kind op ’n motorfiets toegelaat het as ek nie geglo het dat hy genoeg verantwoordelikheid gehad het nie,” het Irving gesê.

Die pa en seun het ook gereeld saam motorfiets gery.

“Ons het inteendeel alles saam gedoen. Dayne was my lewe.

“Ek het alles rondom hom beplan. Ek het planne gemaak sodat hy volgende jaar die besigheid by my sou kon oorneem.

“Ons het soveel planne vir die toekoms gehad. Ek is nie seker hoe ek hierdie pad nou alleen gaan stap nie,” het ’n hartseer Irving gesê.

“Dayne was ’n kind wat altyd geglimlag het. Dit was vir hom belangrik dat die mense rondom hom ook gelukkig moet wees en hy het nooit gehuiwer om te gee of te help waar hy kon nie.”

Irving is verlede Woensdagoggend, pas nadat die ongeluk plaasgevind het, daarvan ingelig deur ’n persoon wat sy seun se motorfiets herken het.

Hy het na die toneel gehaas, waar sy seun langs sy motorfiets in die pad gelê het.

Dayne se ma, Charmane het het haar seun as sagmoedig en lewenslustig beskryf.

Dayne en sy ma, Charmane.

“Hy sou nie ’n vlieg seermaak nie. Hy was my `baby boy’ wat ’n selfstandige jong man geword het.

“Dayne het vir my soveel redes gegee om trots te wees en die grootste een daarvan, is dat ek sy ma kon wees.

“Ek dank die Here vir die eer dat ek Dayne se ma kon wees.”

Hy laat ook twee stiefsusters, Rochelle Loots (23) en Wuanita Els (19) na.

Volgens hoof supt Wilfred Kgasago, woordvoerder van de Ekurhuleni Metro Polisie, is ’n saak van manslag en roekeloos en nalatige bestuur by die Brakpan SAPD geopen.

Related Articles

Back to top button