Editor's choiceLocal newsNews

Muriel Brand Skool kry welkome skenking van Just Wheels Motorklub

Die bestuur van die Just Wheels Motorklub het Dinsdagaand ’n tjek ter waarde van R109 307,12 aan Muriel Brand Skool oorhandig.

Dié fondse is ingesamel tydens die klub se jaarlikse motorskou, wat in Mei maand by die skool gehou is.

Die Geotab Just Wheels Motorskou het vanjaar weereens nie teleurgestel nie en honderde mense het op 27 Mei deur die hekke gestroom, om die sowat 700 voertuie, wat op skou was, te bewonder.

Die klub het sy eerste motorskou agt jaar gelede by die skool aangebied, toe daar 65 voertuie op skou was en slegs sowat 10 vlooimarkstalletjies.

Vanjaar het die skoolgronde uit sy nate gebars met ’n magdom vlooimarkstalletjies, kosstalletjies en aktiwiteite wat deur die loop van die dag aangebied is.

Die 4×4-baan wat met groot sorg en onkoste geskep is, was weereens ’n groot trekpleister.

Lees: Top gehalte motorskou stel nie teleur

Die hoof van Muriel Brand Skool, dr Japie de Jager het Dinsdagaand, tydens die tjek oorhandiging, gesê dat dit nodig is om dankie te sê en dat die skool groot waardering het vir die ondersteuning wat dit elke jaar van Just Wheels ontvang.

“Dit is geweldig duur om ons skool aan die gang te hou en skenkings soos hierdie stel ons in staat om projekte aan te pak wat nie moontlik sou wees sonder die finansiële hupstoot nie,” het De Jager gesê.

Hy het voortgegaan om te sê dat benewens die finansiële voordeel wat die skool geniet, sorg die Geotab Just Wheels Motorskou ook jaarliks dat daar positiewe bewusmaking oor die skool plaasvind.

“Mense kom van oral om die dag te geniet en op dié wyse bewus van ons skool. In sommige gevalle word dit selfs verder gevoer en raak mense betrokke by ons skool.”

De Jager het gesê dat die geld wat vanjaar ontvang is weer aangewend sal word vir ’n spesifieke projek.

Die fondse wat verlede jaar aan die skool geskenk is, is aangewend om die toilet fasiliteite by die skool op te knap.

Lees: Fasiliteite by skool word opgeknap danksy skenking van Just Wheels

Bart Zaayman, die organiseerder van die Geotab Just Wheels Motorskou het gesê dat die skou vanjaar weereens ‘n groot spanpoging was.

“Dit verg fyn beplanning en harde werk, maar as ons ‘n paar dae voor die skou sien hoe opgewonde die kinders van die skool raak , word alles die moeite werd,” het Zaayman gesê.

“Dit was ‘n baie lekker ‘jol’ en ek bedank ook almal vir die vertroue wat daar in my gestel word,” het Zaayman gesê.

Vishnu Perumalsamy, besturende direkteur van Geotab, wat die borg van die motorskou was, het gesê dat die skool wonderlike werk verrig en dat die maatskappy graag sal wil sien dat die motorskou sal groei.

Kyk hier na meer foto’s

Volg ons:

Instagram
Twitter
Facebook

Ontvang die nuutste nuus op jou foon:

WhatsApp nommer:  0794306641 (voeg ons by jou kontaklys en stuur jou naam en van op WhatsApp)

Related Articles

Back to top button