Editor's choiceLocal newsNews

Nuwe wiele vir die “kos-tannie”

Die “kos-tannie” van die Brakpan Rugbyklub, wat die afgelope drie jaar die dorp plat gery het met haar rooi en wit bromponie, is deesdae met splinternuwe wiele te sien.

Spelers van die Brakpan Rugbyklub het sowat drie jaar gelede geld ingesamel om vir Elandé Moore ‘n bromponie te koop, nadat die een wat sy gery het heeltemal kapoet was.

Die nuwe bromponie is destyds “Tannie Vetkoek” gedoop en dié bewoording is ook daarop aangebring voordat die spelers dit, op haar verjaarsdag, aan haar oorhandig het.

Elandé Moore het sowat drie jaar gelede haar “Tannie Vetkoek”- bromponie ontvang.

Elandé is reeds die afgelope 15 jaar by die Brakpan Rugbyklub betrokke en het haar “kos-tannie”- titel gekry vanweë die feit dat sy op oefenaande en op wedstryddae sorg dat die spelers kos kry.

Elandé doen ook liefdadigheidswerk en dit is gereeld vir haar nodig om goedere te vervoer.

“Met my bromponie moes ek dikwels twee of drie keer ry om goedere aan te ry, maar nou gaan dit baie makliker wees.”

Sy het verlede Donderdag ’n tuk-tuk, wat Frikkie gedoop is, in ontvangs geneem.

Die voertuig is aan haar deur ’n oud-Brakpanner, Frikkie Bosman, wat te hore gekom het van haar wens om ’n meer praktiese vervoermiddel te bekom, geskenk.

“Elandé het aanvanklik voorgestel dat ons ’n gholfdag reël, maar ek het daarteen besluit en ’n paar kennisse en vriende gekontak om te help,” het Bosman vertel.

“Danksy die goedhartigheid van ’n hele paar mense kon ons die geld bymekaar kry om vir haar die tuk-tuk aan te skaf.”

“Ek vat glad nie erkenning vir haar nuwe wiele nie. Daar was ’n hele paar mense wat ook bydraes gemaak het,” het Bosman gesê.

Elandé vertel dat sy waarskynlik, met die geld wat bymekaar gemaak is, ’n klein tweedehandse karretjie sou kon aanskaf, maar dat haar vrees om in ’n motor te ry steeds sterk staan.

Beide haar twee vorige mans is in motorongelukke oorlede en sy verkies dit steeds om nie in ’n kar te ry nie.

“Ek voel baie veiliger op ’n bromponie en dit was my vervoermiddel vir baie jare. Nou moet ek net die tuk-tuk heeltemal baasraak en dan is ek reg vir nuwe uitdagings.”

Elandé het groot lof gehad vir Bosman en al die mense wat bydraes gemaak het, sodat sy nuwe wiele kon kry.

Lees ook:

Rugbyspelers sorg dat “Tannie Vetkoek” nuwe wiele kry

Dié tuk-tuk kry jou woerts-warts waar jy wil wees

Volg ons:

Instagram
Twitter
Facebook

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button