Editor's choiceLocal newsNews

Dié tuk-tuk kry jou woerts-warts waar jy wil wees

Johan se borriegeel tuk-tuk, waarmee hy daagliks skoliere, bejaardes en ander lede van die publiek vervoer verskaf aan hom ‘n inkomste, maar bied ook ‘n gerieflike oplossing aan dié wat nie vervoer het nie.

Om sonder werk te sit, was nie vir Johan Scheepers ‘n opsie nie en die briljante plan waarmee die 49-jarige inwoner vorendag gekom het, het nou van hom ‘n algemene gesig in die dorp gemaak.

Johan se borriegeel tuk-tuk, waarmee hy daagliks skoliere, bejaardes en ander lede van die publiek vervoer verskaf aan hom ‘n inkomste, maar bied ook ‘n gerieflike oplossing aan dié wat nie vervoer het nie.

Noddy’s Vevoer het aan die einde van Februarie sy ontstaan gehad toe Scheepers vir hom twee tuk-tuks aangeskaf het.

Hy vertel baie gou dat hy nie ‘n taxi-besigheid bedryf nie, maar wel ‘n vervoerbesigheid.

Scheepers, wat ‘n vragmotorbestuurder van beroep is, vertel dat hy sonder werk gesit het en dat hy ‘n plan moes maak.

“My vrou, Annamarie, het eendag een van die tuk-tuks in Pretoria gesien en dieselfde aand daarvan gedroom,” het Scheepers vertel.

“Sy het die volgende oggend vir my gesê dat ons so iets moet oorweeg en dit is waar ons plan begin vorm aanneem het.”

Scheepers het begin rondkyk en uiteindelik twee nuwe tuk-tuks aangekoop met die doel om mense, wat nie vervoer het nie, te help.

Dit was wel nie maanskyn en rose van dag een af nie, en aanvanklik het die besigheid maar sukkel-sukkel gegaan, maar vandag is Scheepers se tuk-tuk daagliks te sien.

Johan Scheepers in sy borriegeel tuk-tuk.

Hy vervoer veral skoolkinders en begin in die oggende reeds om 5.30vm om almal betyds by die skool te kry.

“Ek is dol oor kinders. Hulle is ons toekoms en dit is vir my belangrik dat elke kind die voorreg geniet om te kan skool gaan.”

“Dit is ‘n groot verantwoordelikheid om met ander mense se kinders rond te ry en ek neem dit nie ligtelik op nie.”

Bejaardes maak ook gereeld van sy dienste gebruik en wanneer dit moet, sal hy selfs vir sy kliënte buite die grense van die dorp ry.

“My vrou is die een wat tuis die foon behartig en alles reël en dit verg dikwels fyn beplanning om almal op die regte tyd by ‘n plek te kry.”

Scheepers verduidelik dat hy ‘n motorfietslisensie en publieke ry permit het en dat sy tuk-tuk heeltemal padvaardig is.

Die voertuig se top snelheid is tussen 50 en 55 kilometer per uur en met een liter diesel kan Scheepers so tussen 25 en 27 kilometer ry.

Hy het die afglope tyd baie mense leer ken en sy tuk-tuk het ook al gedien as troukar vir ‘n paartjie van die dorp.

“Oral waar ek gaan noem die mense my Oom Noddy of Mr Noddy, maar ek gee glad nie om nie.”

Scheepers kan tot ses persone op ‘n slag vervoer en hy maak seker dat almal die reëls gehoorsaam.

En nou dat dit winter is, sorg hy dat daar altyd ‘n lekker dik warm kombers byderhand is.

“Ek hou nie daarvan as die kinders so vroeg in die oggend koud kry nie. Die komberse help darem bietjie,” vertel die vriendelike Oom Noddy.

Lees ook: 

Brakpan tiener maak naam met Mini

Oom Grobler pronk met 18 veteraan voertuie

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button