Local newsNews

Vierjarige se woorde toe huis afbrand: “Mamma die vuur kom uit”

Die Diederick-gesin het alles verloor.

‘n Gesin van die dorp het Sondagmiddag al hulle persoonlike besittings verloor toe die huis wat hulle huur gedeeltelik afgebrand het.

Ten spyte van desperate pogings om die brand te blus, het die Diederick-gesin, wat op die hoek van Stasieweg en Gladstonelaan gewoon het, alles verloor.

Tanja Swart (45), suster van Susan Diedericks (32), het Maandag vertel dat haar suster en haar gesin nog erg getraumatiseerd is.

“Ek en my verloofde Corrie Lessing (43) het saam met Susan en nog ‘n bejaarde familielid in die sitkamer gesit en koffie drink,” het Tanja vertel.

Susan se man, Adriaan was ten tye van die voorval nie by die huis nie.

Volgens Tanja het Susan se jongste kind Dané (4) in die sitkamer gekom en gesê “mamma die vuur kom uit”.

“Ons het opgespring en na die hoofslaapkamer gegaan waar die plafon reeds in vlamme was,” het Tanja gesê.

“Alles was ‘n deurmekaarspul want ons het die vlamme probeer blus, ons moes Dané en die bejaarde familielid na veiligheid bring en ook sorg dat Susan se ander twee kinders, wat buite gespeel het, veilig was,” het Tanja vertel.

“Ons het vir Adriaan gekontak maar teen die tyd wat hy by die huis kon uitkom het die brand al die oorhand gekry.”

“Die nooddienste het ‘n tydjie geneem om op te daag en ons kon basies niks uit die huis red nie,” het Tanja gesê.

“Uit een kamer kon ons darem ‘n hangkas en ‘n enkelbed red.”

Daar is niks oor van die kinders se goed nie.”

Die ouer twee, Sulandi (7) en Adri (8) het buite fiets gery toe die brand uitgebreek het.

“Susan-hulle bly tydelik by familie op Sandra maar die kinders is in Brakpan-Oos en dit sal net ‘n tydelike oplossing bied,” het Tanja gesê.

Persone wat hulp wil verleen kan vir Tanja na 5nm kontak by 073 421 4108.

Skenkings in die vorm van meubels, elektriese ware, beddegoed, gordyne ens. kan ook bedags na Gemainslaan 104 geneem word, waar Niki Howard dit in ontvangs sal neem.

Meer foto’s: 

Lees ook: Baba brand erg toe hy in smeulende as val

Vrou brand erg toe warmwatersak bars

Bekende bakkery in puin gelê deur brand

Volg ons:

Instagram
Twitter
Facebook

Related Articles

Back to top button