Local newsNews

Bruid op die sypaadjie trek net soveel aandag soos anti-Zuma optogte

Verskeie vriende en familie van die paartjie was teenwoordig om die spesiale oomblik te beleef.

Terwyl derduisende mense Vrydag aan optogte deelgeneem het, om hul misnoeë met president Jacob Zuma te kenne te gee, was daar ‘n groepie mense wat die koppe laat draai het vir ‘n heeltemal ander rede.

‘n Bruid in ‘n spierwit, wye trourok het geduldig op ‘n sypaadjie voor die kantoor van Binnelandse Sake gestaan om uiteindelik met die liefde van haar lewe te trou.

Charlotte Benade (22) was effe senuweeagtig maar dit was haar ma, ook Charlotte (47), wat aanhoudend die trane moes wegpik.

Charlotte se aanstaande man, Martinus de Lange (25), was netjies uitgevat in ‘n donker pak klere en het gou nader gestaan vir ‘n paar fotos voordat hy die groot stap sou neem.

“Ons ken mekaar al seker so nege jaar en vandag trou ons uiteindelik,” het Charlotte gesê.

Verskeie vriende en familie van die paartjie was teenwoordig om die spesiale oomblik te beleef.

“Daar is nog mense by ons huis want almal kon nie hier wees nie,” het Reida de Lange, Martinus se ma laat weet.

Die paartjie sou na afloop van die formaliteite na Carnival City gaan om so bietjie te ontspan voordat hulle die getroude lewe saam aanpak.

Meer foto’s: 

Lees ook: Egpaar se huwelik skitter soos ‘n diamant

Volg ons:

Instagram
Twitter
Facebook

Related Articles

Back to top button