Editor's choiceLocal newsNews

Inwoners op hol oor vreemde gedrog wat in Brakpan Dam dryf

“My man was nog besig om die visstokke van die bakkie af te laai toe ek iets in die water, tussen die hiasinte, sien dryf.”

Die Herald het sedert vroeg vanoggend (Saterdag) talle oproepe ontvang van bekommerde en selfs histeriese inwoners, wat ‘n drywende gedrog, met lang hare in die Brakpan Dam gewaar het.

Sommige het dit beskryf as ‘n monster en een inwoner  het gesê dat die “ding onbeskryflik lelik” is.

‘n Inwoner  (28), wat gevra het om anoniem te bly, het gesê dat sy en haar man vanoggend om 6.30vm by die dam opgedaag het, om vis te vang.

“Ons weet dat die hiasinte tans ‘n groot probleem is en dit is waarom ons maar besluit het om vroeg te gaan, sodat ons ‘n plek kon kry,” het die vrou gesê.

“My man was nog besig om die visstokke van die bakkie af te laai toe ek iets in die water, tussen die hiasinte, sien dryf,” het die vrou gesê.

“Ek het eers nie veel daarvan gedink nie, maar toe ek beter daarop fokus het ek my boeglam geskrik.”

“Dit is moeilik om te beskryf hoe dit gelyk het, maar ek kon beslis uitmaak dat dit ‘n `mens-agtige’ ding was,” het die vrou gesê.

“Dit het op en af beweeg en ek is seker daarvan  dat ek het ‘n groot kop met lang hare gesien het. Dit was baie lelik en dit het gelyk of die ding vir my kyk,” het die vrou bygevoeg.

“Ek het so groot geskrik dat ek sommer gegil het en my man, wat nog steeds by ons bakkie was, het  dadelik gevra wat fout is.”

“Ek het vir hom vertel wat ek gesien het en gewys na die plek, maar daar was niks nie. Hy het gesê ek verbeel my.”

“Ek was egter so ontsteld dat ons besluit het om liewer te ry en ons visvang uitstappie was daarmee heen.”

Die Herald het gaan ondersoek instel en behalwe vir een hengelaar, was daar nie veel om te sien nie.

Dié hengelaar het gesê dat hy al vir ‘n wyle daar was, maar niks ongewoon opgemerk het nie.

Sy woorde was skaars koud toe ‘n groenerige hand tussen die hiasinte te voorskyn kom, sowat agt meter vanwaar hy en die Herald-span gestaan het.

Die hand was net vir ‘n paar sekondes sigbaar voordat dit skielik verdwyn het, asof iemand dit met mening na onder geruk het.

Die Herald is in die proses om meer inligting te bekom oor die vreemde verskynsel, maar omdat dit vandag April-Gekkedag (April Fool’s Day) is daar geen rede tot kommer of histerie nie.

Related Articles

Back to top button