Editor's choiceLocal newsNews

Brakpan DBV trek noustrop

“Indien die Brakpan DBV sy deure sal moet sluit, sal die publiek hul na ander DBV’s en diereskuilings moet wend.”

Die Brakpan Diere Beskermingsvereniging (DBV) staar tans groot finansiële kommer in die gesig en moes Saterdag noodgedwonge ’n blikkie-skud-projek aanpak, in ’n poging om kontant vir die vereniging in te samel.

Danksy die publiek se vrygewigheid is ’n bedrag R18,050 ingesamel – maar is dit kwalik genoeg om die wiele mooi aan die rol te hou?

Die geld, wat ingesamel is, sal aangewend word om die veearts- en brandstofrekening vir Maartmaand te dek en ook om die nodige mediese voorraad aan te koop.

Lees: SPCA battles to keep its doors open 

Die DBV het tans sewe personeellede en moet staat maak op net een voertuig om die hele Brakpan area te dek.

Volgens die bestuurder van die DBV, Ming Church, hanteer die Brakpan DBV maandeliks ‘n gemiddeld van 346 diere.

Volgens haar ontvang die vereniging huidiglik slegs ‘n staatstoelaag vir rondloper diere wat in die DBV se sorg is.

“Ses en negentig van die 346 diere, wat in ‘n maand deur ons hanteer word, is rondloper diere.

“Ongelukkig moet die sorg vir die oorblywende diere deur die DBV self gedek word en, natuurlik, deur die bydraes wat ons van die publiek ontvang,” het Church gesê.

Sommige van die uitgawes wat op ‘n maandelikse basis aangegaan word sluit inentings, sterilisasies, genadedood, mediese behandeling, troeteldierkos, personeel se salarisse, water en ligte rekeninge, asook brandstof en instandhouding vir die voertuig in.

Om die nood te verlig het die DBV ‘n winkel waar tweedehandse goedere verkoop word en fondsinsamelings asook straatkollektes word gereeld gedoen.

Lees: SPCA jumble shop moves to town

Ming het bygevoeg dat kos en komberse altyd welkom is, maar dat dit nie verligting bring in die daaglikse bestuurskoste van die vereniging nie.

“Indien die Brakpan DBV sy deure sal moet sluit, sal die publiek hul na ander DBV’s en diereskuilings moet wend.”

“Daar sal niemand wees om rondloper honde op te laai nie en die publiek sal nie ‘n plek in die dorp hê om ongewenste diere heen te neem nie,” het Church gesê.

Die blikkie-skud projek, wat Saterdag plaasgevind het, sal in die nabye toekoms weer herhaal word.

Besonderhede oor die presiese datum en plek sal later bekend gemaak word.

Persone wat intussen belangstel om die DBV op een of ander manier te help kan vir Church kontak by 011 742-2007 of deur ‘n e-pos te stuur na manager@brakpanspca.co.za.

Lees ook:

WATCH: Oslo goes home

Volg ons:

Instagram
Twitter
Facebook

Related Articles

Back to top button