Editor's choiceLocal newsNews

Kyk: Skokvideo waar kind omgery word, sorg vir hartseer en geluk

“Die ongeluk was ‘n groot skok en die herrie wat deur die video veroorsaak is, het ‘n bitter smaak gelaat.”

Die ma van ‘n vyf-jarige kind wat onlangs deur ‘n motoris raakgery is, is stadig besig om tot verhaal te kom nadat ‘n video, wat die ysingswekkende oomblik vasgevang het, gesorg het vir groot angs en hartseer.

Die insident het op 24 Desember, verlede jaar in Voortrekkerweg plaasgevind.

Gelukkig het die video, wat sonder die ma se medewete op sosiale media versprei is, daartoe gelei dat daar darem iets positiefs uit die hele debakel gekom het.

Mariette Pretorius (35) het die week vertel hoe die ongeluk op Oukersaand haar hele lewe in ‘n oogwenk deurmekaar gekrap het.

Haar kinders Danelle Boshoff (5) en Zandrie Pretorius (12) het op dié aand, ongeveer 6nm, saam met ‘n volwasse familielid na ‘n kafee in Voortrekkerweg gegaan.

Danelle Boshoff (5), voordat sy Saterdagoggend haar splinternuwe bril gekry het. Haar sussie Zandrie Pretorius (12) is saam met haar op die foto.
Danelle Boshoff (5), voordat sy Saterdagoggend haar splinternuwe bril gekry het. Haar sussie Zandrie Pretorius (12) is saam met haar op die foto.

“Hulle was oorkant die pad geparkeer en moes die pad kruis om by die kafee uit te kom,” het Mariette vertel.

“Zandrie het Danelle se hand vasgehou en toe hulle in die middel van die pad kom, het Danelle losgeruk en vorentoe beweeg.”

‘n Motoris het die kind, wat soos ‘n lappop deur die lug getrek het, getref.

Wat daarna gevolg het was vir Mariette etlike ure van loutere hel en enige ouer se grootste nagmerrie.

“My kind is na die Verre Oosrandse hospitaal geneem waar sy geen behandeling ontvang het nie.”

“Ek is op die oomblik werkloos en beskik nie oor ‘n mediese fonds nie.”

“My broer, Frans Pretorius, het gereël dat Danelle na ‘n privaat hospitaal geneem word waar sy darem gou behandel is.”

“Sy het haar sleutelbeen gebreek en haar bene en boude was vol skraap- en kneusmerke.”

“Haar bril, waarsonder sy nie kan klaarkom nie, het ook gebreek.”

“Maar my kind was darem`ok’ en is dieselfde aand nog ontslaan.”

Mariette het op dié stadium gedink die ergste is verby totdat ‘n video, van die ongeluk, op sosiale media opgeduik het.

“Ek was wel bewus daarvan dat die ongeluk op kamera vasgevang was. Familielede van my het, in ‘n poging om meer duidelikheid oor die ongeluk te kry, na die kafee gegaan en versoek om na beeldmaterial van die sekuriteitskameras te kyk.”

“Die ongeluk is daarop vasgevang en en kon myself net sover kry om een keer daarna te kyk.”

“Die emosies wat ek ervaar het toe ek daarna gekyk het, kan ek aan niemand beskryf nie,” het Mariette gesê.

“Ons het beslis nie die video versprei nie en dit is nog vir ons onduidelik hoe dit in die persoon, wat dit begin versprei het, se hande beland het.”

Die volgende video is nie vir sensitiewe kykers nie: 

“Mense het dadelik begin vinger wys. Nie net na die bestuurder van die voertuig nie, maar ook na my as ouer.”

“Baie van die kommentaar wat gemaak is, was ontstellend en onwaar. Daar was selfs iemand wat gesê het dat my kind dood is.”

“Ek bly op die oomblik in Secunda en selfs daar het ‘n vreemdeling onlangs vir my geskreeu dat ek ‘n slegte ma is.”

“Baie mense het hul ongevraagde opinie gelug, maar daar het darem ook goed uit die hele storie gekom.”

Twee weldoeners John Green en Retha Venter het die video gesien en ook gelees dat Danelle se brilletjie tydens die ongeluk gebreek is.

Danelle Boshoff het Saterdagoggend haar nuwe bril gekry en was baie in haar skik.
Danelle Boshoff het Saterdagoggend haar nuwe bril gekry en was baie in haar skik.

Hulle het aangebied om daarvoor te betaal en ook daad by die woord gevoeg.

‘n Baie opgewonde Danelle het Saterdagoggend, saam met haar ma, by Optispec Oogkundiges te Boksburg ‘n splinternuwe bril gaan kry.

“Ek hou baie van my nuwe bril en ek kan nou weer mooi sien,” het ‘n opgewonde Danelle gesê.

Mariette het ten tye van die ongeluk by familie in Brakpan gekuier.

“Die ongeluk was ‘n groot skok en die herrie wat deur die video veroorsaak is, het ‘n bitter smaak gelaat.”

“Gelukkig het my kind se wonde genees en het sy nou haar nuwe bril. Dit kon soveel anders gewees het. Ek is dankbaar.”

Mariette het ook bygevoeg dat daar daadwerklik plan gemaak moet word om ‘n verkeerslig op die hoek van Voortrekkerweg en Kerrystraat aan te bring.

“Ek is bewus daarvan dat daar op hierdie spesifieke plek al baie ongelukke was.”

‘n Saak van roekeloos en nalatige bestuur word ondersoek.

Volg ons:

Instagram
Twitter
Facebook

Ontvang die nuutste nuus op jou foon:

WhatsApp nommer:  0794306641 (voeg ons by jou kontaklys en stuur jou naam en van op WhatsApp)

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button