CrimeEditor's choiceNews

Egpaar ingewag by huis: Vrou vertel van angsvolle oomblikke

‘n Titaniese geveg om oorlewing het tussen Johan du Toit en sy aanvallers ontstaan en hy is in die proses herhaaldelik oor die kop geslaan en met ‘n mes, wat sy long binnegedring het, gesteek.

Die 64-jarige man wat Donderdagmiddag deur rowers by sy huis in Shortstraat ingewag is, sterk steeds in die hospitaal aan, maar volgens sy vrou gaan dit beter.

Johan du Toit en sy vrou Mariska (48) is Donderdagmiddag net voor 2nm op hul kleinhoewe deur vier rowers ingewag.

‘n Titaniese geveg om oorlewing het tussen Du Toit en sy aanvallers ontstaan en hy is in die proses herhaaldelik oor die kop geslaan en met ‘n mes, wat sy long binnegedring het, gesteek.

Hy kon gelukkig daarin slaag om ‘n jaggeweer uit sy kluis te haal en  sodoende die oorhand oor die aanvallers te kry.

Mariska het verduidelik dat haar man Donderdagmiddag, met hul aankoms, voor haar by die huis ingegaan het.

Lees die oorspronklike berig hier

“Daar was nie rede om onraad te vermoed nie,” het sy gesê.

Johan se seun, uit ‘n vorige huwelik, Francois (32) asook drie werkers en die huishulp was toe reeds vasgebind in die kombuis.

“Ek het Johan hard hoor praat maar gedink hy praat met die huishulp.”

“Toe hoor ek hom skreeu, waarna ek na die kombuis gehardloop het.”

“Toe ek by die deur inkom, het een van die vier rowers ‘n wapen teen my gesig gedruk.”

“Ek kon sien Johan was toe reeds geslaan.”

“Ek is op die kombuisvloer neergegooi en ook met ‘n bofbalkolf oor die kop en rug geslaan.”

“Intussen is die booswigte al stoeiende met Johan na die slaapkamer. Een van hulle het teruggekom na my toe en my beveel om my hande agter my rug te hou. Ek is weer geslaan.”

“Op ‘n stadium het dit stil geraak in die kombuis en ek het ‘n kans gewaag om uit te hardloop terwyl ek baie hard geskreeu het.”

“’n Rower wat buite gestaan het, het probeer om my weer terug in die huis te dwing, maar ek het my teëgesit waarna hy oor ‘n muur gespring en weggehardloop het.”

“Hierna het  ek na die bure gehardloop en ‘n vrou, wat verby gery het, het stilgehou en die polisie ontbied.”

“Op dié stadium het ek ‘n skoot hoor afgaan,” het Mariska vertel.

“Dit was benoude oomblikke, want ek het nie geweet wie die skoot afgevuur het nie.”

“Gelukkig het ek toe gesien hoe die ander booswigte weghardloop,” het sy gesê.

Johan kon op ‘n stadium, toe daar net een rower by hom in die kamer was, daarin slaag om die oorhand te kry en by die kluis uit te kom.’

“Hy is ongelukkig in die proses met ‘n mes, wat sy long binnegedring het, gesteek.”

Hy kon dit regkry om ‘n jaggeweer uit ‘n kluis  te haal en op die rower, wat by hom in die kamer was, te skiet.

“Dié man het toe weggehardloop en vir sy makkers geskreeu om dieselfde te doen.”

Du Toit is in ‘n hospitaal opgeneem waar hy ‘n operasie ondergaan het.

“Die wonde aan sy kop is ook met ten minste 30 krammetjies geheg,” het Mariska bygevoeg.

Sy moes self ses steke aan haar kop kry.

Die voorval word deur die Brakpan SAPD ondersoek.

Lees ook: 

Inwoner geskiet toe hy ondersoek instel na geraas buite sy huis

Wees op die uitkyk: Motorfietsdiewe is bedrywig

Reeksmoordenaar in Brakpan: Polisie verduidelik

Volg ons:

Instagram
Twitter
Facebook

Ontvang die nuutste nuus op jou foon:

WhatsApp nommer:  0794306641 (voeg ons by jou kontaklys en stuur jou naam en van op WhatsApp)

Related Articles

Back to top button