Editor's choiceLocal newsNews

Laerskool Dalview se nuwe hoof neem die leisels oor

Die Herald het ‘n paar vrae aan Chris Pretorius, wat die leisels by Tom Weys oorneem, gevra.

Die nuwe hoof van die Laerskool Dalview, Chris Pretorius (48) neem môre (Woensdag) sy plek by die Laerskool Dalview in.

Die Herald het ‘n paar vrae aan die man, wat die leisels by Tom Weys oorneem, gevra.

  • Waar woon jy?

Ek woon in Bonaero Park, Kempton Park. Dit is ongeveer 25 kilometer van die Laerskool Dalview af.

  • Vrou se naam en beroep?

My vrou, Ursula is ‘n oud-onderwyseres wat die onderwys beroep verruil het vir die korporatiewe wêreld daar buite. Sy is die afgelope 12 jaar by ‘Woolies’. Sy is die afdelingshoof by Woolworths Suid-Afrika, Finansiële Dienste.

  • Kinders se name en ouderdomme?

Ons het twee kinders. My seun Estiaan (20) studeer tans by die Noordwes-Universiteit (Potchefstroomkampus) en my dogter Elandri (13) is ‘n graad sewe leerder aan die Laerskool Impala.

  • Gee ‘n kort  beskrywing van jou loopbaan in die onderwys tot en met jou aanstelling as die hoof van die Laerskool Dalview.

* Ek het in 1991 gegradueer aan die Onderwys Kollege van Potchefstroom.

* In 1992 begin my onderwysloopbaan by die Laerskool Impala, waar ek klassikale onderrig gegee het vir ‘n standerd twee (graad vier) klassie.

* In 1995 verwerf ek ‘n verdere diploma in onderwys, naamlik “opvoedkundige leiding”.

* In Julie 2001 word ek aangestel as departementshoof opvoedkundige leiding by die Laerskool Impala.

* In 2002 verwerf ek ‘n baccalaureusgraad in onderwys (honneurs) met onderwysbestuur en onderwysreg as my hoofvakke.

* In Augustus 2007 word ek aangestel as adjunkhoof, akademiese aangeleenthede, by Laerskool Impala.

* In Januarie 2012 word my posbenaming verander na adjunkhoof grondslagfase, waar my pligte spesifiek gerig is op grondslagfase aangeleenthede.

* Na 25 jaar by Laerskool Impala word ek die hoof van die Laerskool Dalview.

  • Wat sal jy altyd onthou van jou tyd by die Laerskool Impala?

In my 25 jaar by die skool het ek elke dag met ‘n lied in my hart skool toe gegaan. Die rede daarvoor is dat die personeel van Impala soos ‘n hegte familie funksioneer.

Ek sal die ondersteuning aan en van die personeel as een van my hoogtepunte beskou. ‘n Gelukkige onnie het ‘n gelukkige kind tot gevolg. ‘n Gelukkige kind het dan ook ‘n gelukkige ouer tot gevolg.

En dit is iets wat ek beslis na Laerskool Dalview toe wil bring. ‘n Hegte personeel wat gelukkig is en wat dan sal bydra tot gelukkige kinders en ‘n gesonde gemeenskap.

  • Die nuwe pos sal sekerlik uitdagings bied. Hoe gaan jy te werk om uitdagings te hanteer?

Alle uitdagings kan met die gebruik van slegs een beleid hanteer word.

Met hierdie beleid as beginsel sal elke skoolbeleid van Laerskool Dalview vaste en gesonde fondamente hê.

Die beleid wat deur my, die skoolbestuur, die beheerliggaam en elke personeellid gebruik sal word, leer en onderrig ons van die liefde. Dit leer ons oor onderwys, dissipline en tug en praat oor gesonde finansiële bestuur. Dit praat ook oor die goed en die kwaad en oor oorsaak en gevolg.

Elke uitdaging sal met Bybelse fondamente hanteer word. Met die Bybel as beleid sal geen uitdaging te groot wees nie.

‘n Oopdeur bestuurstyl waar besluite deursigtig en in konsultasie sal plaasvind, met deurlopende kommunikasie aan alle rolspelers, sal bydra om uitdagings met sukses te hanteer.

  • Wat sal jou onmiddellike planne vir die skool wees?

Ek wil hê die gemeenskap van Dalview moet vertroue kry in die skool en sy besluite. Ons ouers moet ons skool se bemarkers word. Die skool moet die ouers die regte rede gee om oor Dalview te praat.

Om dit reg te kry sal ek verseker dat strukture in plek sal wees om elke situasie met sukses te kan hanteer. Die skool se beleide sal deur die beheerliggaam hersien word en aan alle rolspelers gekommunikeer word.

Besluite sal bestuur word vanuit toepaslike beleide.

Die skool is hierdie jaar 70 jaar oud. Ek sal graag hierdie 70ste jaar wil sien as die begin van ‘n nuwe era met ‘n blink nuwe horison.

  • Wat is jou benadering ten opsigte van dissipline in ‘n skool?

Enige mens het ‘n hunker na grense. ‘n Goeie dissiplinêre stelsel sal verseker dat die grense duidelik en nie-onderhandelbaar is. Die volgende beginsels is belangrik ten opsigte van dissipline: beloon goeie gedrag, wees duidelik oor reëls, wees konsekwent oor reëls en wees ‘n model van goeie gedrag.

Dit is baie belangrik om selfdissipline te kweek by ons leerders.

  • Hoe sal jy jou bestuurstyl beskryf?

Alle leiers is bestuurders, maar nie alle bestuurders is leiers nie.  As bestuurder wil ek as ‘n leier geken word. Ek glo in demokratiese besluitneming, maar sal nie skroom om ‘n outokratiese besluit te neem nie, spesifiek waar dit tot voordeel van die skool en sy gemeenskap sal wees. Persoonlik laat ek ook ruimte vir die sogenaamde “laissez-faire” bestuurstyl, aangesien ek vertoue in my personeel het, asook hulle besluitnemingsmag.

My bestuurstyl word gekenmerk aan: opregtheid, eerlikheid, menslikheid, deurdagtheid, konsekwentheid en regverdigheid.

  • Wat sal jou boodskap aan die ouers van die leerders van die skool wees?

Dalview het ‘n trotse kultuur, gekenmerk aan Christelike fondamente. Hier is ons trots om Afrikaans te wees en lewe voluit.

Ondersteun die skool positief. Bespreek enige probleme met die skool by die skool met die betrokke personeel.

Word ons skool se bemarkers sodat ons van krag tot krag sal groei.

Ons volhoubaarheid as ‘n Christelike Afrikaanse onderwys- instelling met kwaliteit onderwysers hang af van julle: ons ouers by Dalview.

Wees ‘n trotse Dalview ouer. Woon die skool se funksies by, wees betrokke.

Kom maak kennis met die nuwe hoof en kom skud blad. Leer my ken as mens en besluit self.

  • Wat sal jou boodskap aan die personeel van die skool wees?

My eerste woorde aan die personeel: Geluk.

In die afwesigheid van ‘n skoolhoof het die personeel, die bestuur van die skool en die beheerliggaam ‘n uitstekende taak verrig om die skool met sukses te laat vorentoe beweeg.

Ek het juis daarom vertroue in die personeel. Die kwaliteit van die personeel spreek vanself.

Die skool is hierdie jaar 70 jaar oud. Hierdie jaar is ons jaar. Ons glase is halfvol. Ek glo en vertrou dat ons aan die einde van 2017 kan sê, soos Koning Dawid van ouds: “my beker loop oor.”

Ek is trots om aan te kan sluit by “Team Dalview”.

  • Sport en kultuur speel ‘n baie belangrike rol in elke skool. Dink jy daar word vandag nog genoeg klem gelê op die akademie?

Sport- en kultuurprestasies word gesien as ‘n baie belangrike bemarkingstegniek.

Dit is baie duidelik dat Dalview wel ‘n balans handhaaf ten opsigte van buitemuurse aktiwiteite, asook akademiese verwante aktiwiteite. Die skool het ‘n sportbestuurder met verskillende sportorganiseerders en afrigters.

Die akademie het verskillende fases in die skool, met elke fase wat ‘n spesifieke toegewyde departementshoof het, wat die akademie monitor. Elke vak in die skool het ‘n senior onderwyser wat optree as vakhoof, wat verdere kundigheid en kontrole verseker.

Die skool is onderhewig aan verskillende kurrikulum- bestuursplanne wat die vordering van die kurrikulum en ons leerders bestuur.

Gereelde vakvergaderings, deur die distrik en die skool self, verseker akademiese uitnemendheid.

Ek kan nog talle voorbeelde noem waar die Laerskool Dalview die voortou neem om te verseker die skool se akademie primêr prioriteit verdien. My antwoord as hoof van Dalview is: ja, daar is genoeg klem op die skool se akademie.

  • Wat doen jy om te ontspan en waar hou jy graag vakansie?

Wanneer die druk bietjie te veel raak, misbruik ek my liggaam om my kop skoon te kry.

Ek hou van oefen, bloot omdat dit vir my ‘n medisinale uitwerking het.

Ek glo aan “continuous professional teacher development” en lees graag na oor onderwys verwante aangeleenthede.

Die mooiste deel van Suid-Afrika is dan ook my gunsteling vakansiebestemming, naamlik Mosselbaai en omgewing.

Die feit dat ons Afrikaanse kultuur so mooi uitgeleef word in hierdie omgewing is ‘n verdere pluspunt om hier vakansie te hou.

Related Articles

Back to top button