Editor's noteLocal newsNews

Brakpanner wen groot bedrag geld op Musiek Roulette

Janie Henning het die ondervinding om aan die musiekprogram deel te neem as onvergeetlik beskryf en bygevoeg dat sy definitief weer so ’n geleentheid sal aangryp.

Janie Henning (36) het Vrydagaand kykers van die bekende SABC 2-program Musiek Roulette verstom nadat sy R47 000 gewen het.

https://www.youtube.com/watch?v=Pd-avvzPfkM&feature=youtu.be

Hierdie Brenthurst inwoner, wat ’n musiekfoendi is, het teen twee ander deelnemers meegeding om as die wenner gekroon te word en met ’n groot bedrag geld huis toe te gaan. Van Janie se gesinslede was ook in die gehoor gewees om haar te ondersteun.

“Ek dink my man, Wynand, se senuwees was meer klaar as myne,” het Janie vertel.

Janie en Wynand Henning.
Janie en Wynand Henning.

“Toe dit by die laaste vraag kom van of ek die helfte huis toe gaan vat en met die ander helfte die volgende week gaan speel, en of ek die hele R47 000 huis toe gaan vat het hy letterlik op die punt van sy stoel gesit en eers weer behoorlik asemgehaal toe ek gesê het ek vat alles en gaan huistoe.”

Sy het die ondervinding om aan die musiekprogram deel te neem as onvergeetlik beskryf en bygevoeg dat sy definitief weer so ’n geleentheid sal aangryp.

“Ek het elke oomblik daarvan geniet,” het sy gesê.

“Dit was so lekker om Nadine en Johan Stemmet in persoon te ontmoet. Hulle is sulke plat op die aarde mense en as ek dit weer oor kon doen, al is dit sonder om enigiets te wen, dan sou ek. Dit was soveel pret gewees en beslis ’n dag wat ek nog baie lank sal onthou.”

Janie het bygevoeg dat sy ’n groot musiekliefhebber is en graag na Afrikaanse kunstenaars soos Karlien en Bobby van Jaarsveld, Gerrie Pretorius, Pieter Koen en Juanita du Plessis luister.

“Ek mis nie ’n musiekprogram op die televisie nie. Ek sing al saam met liedjies vandat ek kan onthou en onthou liedjies se woorde baie goed,” het Janie gesê.

“Ek het ook al selfs ’n paar liedjies geskryf, maar net nog nie daarby uitgekom om dit op te neem nie.”

Musiek Roulette word Vrydaeaande om 8nm uitgesaai en op Sondae is daar ’n heruitsending wat om 12nm plaasvind.

Related Articles

Back to top button