BlogsOpinion

In die kollig

Leer Elzabe de Lange te ken.

Elzabe de Lange (70) tree aan die einde van die jaar, na 49 jaar in die onderwys af. Die bekende “juffrou” van die Laerskool Dalview is getroud met Pierre de Lange. Hulle het drie kinders, Werner (46), Madeleine (44) en Pierre (39) asook ses kleinkinders. Sy woon al sedert haar hoërskooljare in Brakpan.

• In watter jaar het jy begin skoolhou en waar?

Ek het in 1967 begin skoolhou by die Laerskool Dalview. Toe ek in 1986 getroud is, het ek my permanente pos verloor en het toe vir ’n jaar by Brakpan-Oos skoolgehou (saam met my man). Die destydse hoof van Dalview het egter gesorg dat ek kon terugkeer. Ek was departementshoof tot en met my aftrede in 2011 waarna ek in 2012 in ’n beheerliggaamspos was tot huidiglik. Ek was dus vir 49 jaar in die onderwys waarvan 48 jaar by die Laerskool Dalview was.

• Hoe voel dit om na 49 jaar te groet?

Ek tree af en dit is ’n hartseer tyd in my professionele lewe. Om onderwys te gee bly een van die mees dinamiese beroepe. Ek was nooit verveeld nie. Elke dag het sy uitdagings en vreugdes gebring.

• Daar was seker baie hoogtepunte. Is daar iets wat spesifiek uitstaan?

Toe ek aangestel is as departementshoof en toe ek voor mnr Tom Weys se koms as hoof kon waarneem. Ek dink elke dag in die onderwys behoort ’n hoogtepunt in ’n mens se lewe te wees, veral as jy in die glimlaggende gesiggies van kinders kan vaskyk.

• Hoe het skoolhou deur die jare verander?

Daar word soveel van ’n mens verwag ten opsigte van administrasie en burokrasie, dat daar te min tyd afgestaan word vir deernis aan die personeel en kinders in die onderwys.

• Indien jy die horlosie kon terug draai, sou jy weer die onderwys as ’n beroep kies?

Toe ek ’n klein dogtertjie was het ek altyd “skool-skool” met my sussies en boetie gespeel. Dit was vir my die wonderlikste ervaring om bordkryt in my hand vas te hou. Ek was nog altyd lief vir kinders en sport en het geglo om dié twee aspekte te kombineer, moes ek in diens van ander staan.

• Wat gaan jy nou doen?

Daar is beslis lewe na die onderwys. Ek gaan meer tyd aan my gesin en tuin bestee en elke dag ’n goue dag maak.

• Wat sal jou boodskap wees aan jou kollegas wat nog hul plekke moet volstaan?

Liefde, omgee, empatie, passie, takt, diplomasie, ’n begeerte om te dien, ’n akademiese dryfkrag en om krities oor jouself te dink en dan seker die belangrikste: ’n sin vir humor!

• Wat gaan jy meeste mis?

My kollegas met wie ek soveel jare saamgewerk het. Glimlagte, en gelukkige kinders en om te weet ek het ’n verskil gemaak – “Service above self”.

Volg ons:

Instagram
Twitter
Facebook

Ontvang die nuutste nuus op jou foon:

WhatsApp nommer:  0794306641 (voeg ons by jou kontaklys en stuur jou naam en van op WhatsApp)

Related Articles

Back to top button