Editor's choiceLocal newsNews

Brakpan tiener maak naam met Mini

Die stigter van Virgin, Sir Richard Branson, het self in die Mini op die rooi tapyt opgedaag.

‘n Tiener van die dorp se vasberadenheid om te spaar, en haar spaargeld op ‘n positiewe wyse aan te wend, het behoorlik vrugte afgewerp.

Tammy Espach (13) van Brenthurst se piepklein Mini, wat sy sowat ‘n jaar gelede met haar spaargeld gekoop het, is deesdae in groot aanvraag en sy glimlag al die pad bank toe.

Die onderhoofmeisie van die Laerskool Môrewag vertel dat sy sowat drie jaar gelede ernstig begin spaar het.

“Wanneer ek sakgeld, verjaarsdaggeld of geld vir Kersfees gekry het, het ek soveel moontlik daarvan gespaar,” het die vriendelike blondekop vertel.

“Ek het nog altyd daarvan gedroom om ‘n Mini te besit en toe ek gereken het dat ek moontlik genoeg geld bymeaar gemaak het, het ek begin rondkyk vir een.

‘n Buitengewone klein gemodifiseerde Mini, wat aan ‘n versamelaar in die Kaap behoort het, het haar oog gevang.

Tammy Espach in haar Mini, wat eintlik rooi is maar vir ‘n advertensie veldtog groen gemaak is.
Tammy Espach in haar Mini, wat eintlik rooi is maar vir ‘n advertensie veldtog groen gemaak is.

“Ek het nou wel nie genoeg geld bymekaar gemaak nie, maar my pa, Henry, het my darem gehelp om die karretjie, waaroor ek lank gedroom het, te koop,” het Tammy vertel.

Sy wil nie graag uitwei oor hoeveel sy vir die voertuig, wat heeltemal padwaardig is, betaal het nie, maar van een ding is sy seker; dit was beslis ‘n goeie keuse en die moeite werd.

Tammy het die voertuig sowat ‘n jaar gelede gekoop en sedertdien glimlag sy al die pad bank toe.

“Dit was altyd my plan om die karretjie te gebruik om weer my geld terug te maak, en gelukkig het dinge vir my goed uitgewerk,” het Tammy gesê.

Sy het dadelik begin om die Mini te bemark, sodat dit by matriekafskiedfunksies, debutante geleenthede, troues, 21ste verjaarsdagpartytjies en motorskoue ingespan word.

Haar bemarkingsplan het gewerk en haar Mini was gedurig in aanvraag totdat die groot geluk haar getref het.

Die besigheidsreus, Virgin, het van die Mini te hore gekom en hul bemarkingspan het met Tammy in verbinding getree.

Haar Mini is in Julie vanjaar ingespan vir ‘n advertensie wat in Johannesburg geskiet is. Die advertensie word sedert 10 September op sommige van DSTV se kanale uitgesaai.

Kyk hier na die advertensie:

“Natuurlik is ek vergoed vir die gebruik van my Mini en ek het nie eens omgegee dat hulle my mooi rooi karretjie in groen omhul het, om by hul behoeftes in te skakel nie,” het Tammy gesê.

Tammy Espach by haar Mini, in die strate van Johannesburg, waar Virgin haar karretjie in 'n advertensie gebruik het.
Tammy Espach by haar Mini, in die strate van Johannesburg, waar Virgin haar karretjie in ‘n advertensie gebruik het.

Virgin het voor verlede week weer die kar in die Kaap ingespan, tydens die herbekendstelling van Virgin Money Insurance.

Die stigter van Virgin, Sir Richard Branson, het self in die Mini op die rooi tapyt opgedaag.

“Ek was baie opgewonde daaroor. Dit is fantasties om te dink dat so ‘n bekende persoon in my karretjie gery het,” het Tammy vertel.

“Ek wil nie graag uitblaker hoeveel die betaling is wat ek ontvang nie, want dit sou nie goeie besigheidsetiket wees nie, maar ek het al weer ‘n hele paar rand in die bank terug gesit.”

Die mini weeg ongeveer 550 kilogram is is sowat 1,7 m lank. Dit kan ‘n topsnelheid van 90 kilometer per uur haal, maar ‘n veilige spoed om te handhaaf is 60 kilommeter aangesien die voertuig so kort is.

Dit het ook ‘n skroef aan die agterkant, wat draai wanneer die Mini ry, sodat dit lyk asof die voertuig opgewen word om te ry.

Tammy voel dat dit belangrik is vir kinders om van vroeg af te leer hoe om met geld te werk en geleenthede vir hulself te skep.

“Ek het het die Mini onlangs na my skool se entrepreneursdag geneem. Ons het in groepe saamgewerk my groep het kos verkoop maar natuurlik het my Mini saamgegaan en baie aandag getrek. Belangstellendes kon, teen ‘n fooi van R1, ‘n foto van hulself in die Mini neem. Ons groep het ‘n baie suksesvolle dag gehad,” vertel Tammy.

Alhoewel entrepreneurskap dik deur haar are vloei hoop sy tog om eendag ‘n suksesvolle veearts te word.

“Ek is baie lief vir diere en dit sal vir my leker wees om siek diere gesond te maak.”

Maar, intussen woeker dié agtermekaar tiener heel suksesvol met haar belegging.

Volg ons:

Instagram
Twitter
Facebook

Ontvang die nuutste nuus op jou foon:

WhatsApp nommer:  0794306641 (voeg ons by jou kontaklys en stuur jou naam en van op WhatsApp)

Related Articles

Back to top button