Editor's choiceLocal newsNews

Brakpan skole kan betrokke raak by unieke anti-boelie projek

Die mikpunt sal wees dat die dorp se hoër- en laerskole almal uiteindelik die anti-boelie onderneming sal onderteken en toepas.

Daar was Dinsdagoggend groot opgewondenheid en entoesiasme by die Sonneveld Akademie, toe ‘n Anti-boelie projek amptelik die lig gesien het.

Die projek is nie net op die Sonneveld Akademie gemik nie, maar daar gaan gepoog word om al die skole van die dorp by dit betrokke te kry.

Die mikpunt sal wees dat die dorp se hoër- en laerskole almal uiteindelik die anti-boelie onderneming sal onderteken en toepas.

Lees: Brakpan polisie sal nie boeliery in skole duld nie

Die stigterslid van die projek, Dianne Fourie, het Dinsdagoggend saam met twee ander lede, Danie Smith en Elain van Dyk, die Sonneveld Akademie besoek om die leerlinge en onderwysers in te lig oor wat die projek behels.

‘n Toneel, wat boeliery by die huis en in die skool uitbeeld, is opgevoer en Fourie het ook met die leerlinge gepraat oor haar eie ondervinding as ‘n slagoffer van boelies.

Sy het verder verduidelik dat, om die skool vry te hou van boeliery, word almal se samewerking benodig, en daarom sal daar van leerlinge asook die onderwysers verwag word om die onderneming te onderteken.

Sy het ook aan die leerders gesê dat hulle anonieme notas kan plaas in ‘n boelie-boks, wat by die skool aangebring sal word.

Hierdie notas of briewe sal deur die skoolhoof Steven Weber self hanteer word.

“Julle sal nie meer as ‘klikbekke’ bekend staan nie, maar as ‘heroes’,” het Fourie aan die kinders gesê.

Weber het die boelie-boks aan die kinders gewys en dit uitdruklik gestel dat slegs hy na die briewe sal kyk en dat dit nie saak maak van wie die briewe af kom nie, maar eerder wat daarin staan.

“Party leerlinge weet dalk nie eers dat hulle boelies is nie. Hierdie anonieme briewe kan ons help om hulle te help,” het Weber verduidelik.

Die laerskool hoofdogter, Zané Swart, het die voorreg gehad om voor die skool die eerste handtekening te maak op die onderneming, gevolg deur die hoofseun, Calvyn van Wyngaardt, Weber en die onderhoof Charmain de Bruin.

“Hier by Sonneveld Akademie neem ons as skoolgemeenskap sterk standpunt in teen boeliery in skole,” het Weber gesê.

Lees: By die skool word boelies beslis nie geduld nie

“Ons beskou boelie, in al sy vorme, as ‘n siekte in ons hedendaagse samelewing, wat ongelukkig ook in ons skoolgemeenskappe kop kan uitsteek, en daarom met aktiewe optrede beveg moet word.

“Dit is dan ook in hierdie lig dat ons hierdie projek ten volle ondersteun en ons Fourie baie sterkte toewens met haar projek hier in Brakpan.”

Die lede van die Anti-boelie projek is hier te sien saam met leerlinge van Sonneveld Akademie, wat gehelp het met die toneel. Van agter links is: Danielle van Niekerk, Charlene Kotze, Elain van Dyk en Monique Fourie. Middel: Dianne Fourie en Danie Smith. Voor: Roché Dippenaar, Ryno VIljoen en Juan Combrinck.
Die lede van die Anti-boelie projek is hier te sien saam met leerlinge van Sonneveld Akademie, wat gehelp het met die toneel. Van agter links is: Danielle van Niekerk, Charlene Kotze, Elain
van Dyk en Monique Fourie. Middel: Dianne Fourie en Danie Smith. Voor: Roché Dippenaar, Ryno VIljoen en Juan Combrinck.

Die bestuurslede van die projek beplan om op ‘n maandelikse basis ‘n wisseltrofee te oorhandig aan die skool wat vir daardie maand as “boelie-vry” verklaar word.

Fourie se lewe het vier jaar gelede onherroepelik verander toe sy in ‘n ernstige motorongeluk betrokke was en van die nek af ondertoe verlam gelaat is (die Herald het hieroor berig).

“Ek het nie gras onder my voete laat groei nie en ek het besluit om die projek aan te pak,” het sy vertel.

“Ek het vir lank navorsing gedoen oor boeliery en besluit dat die enigste manier om dit in ons gemeenskap uit te wis, is om om al die skole in Brakpan betrokke te kry.”

Lees: Why bullying should be taken seriously

“Ek wil ook graag op hierdie wyse vir die gemeenskap wys dat dit nie saak maak wat op jou pad beland nie.”

“Dit is nie nodig om terug te staan nie, daar is altyd ‘n weg om ook jou kant te bring,” het Fourie gesê.

Skole wat belangstel om deel te word van die projek of wat meer inligting wil inwin oor die projek, kan vir Fourie skakel by 073 840 1625 of ‘n e-pos stuur na diannefourie7@gmail.com

Volg ons:

Instagram
Twitter
Facebook

Ontvang die nuutste nuus op jou foon:

WhatsApp nommer:  0794306641 (voeg ons by jou kontaklys en stuur jou naam en van op WhatsApp)

Related Articles

Back to top button