CrimeEditor's choiceNews

Wees op die uitkyk: Drie jong mans gooi huise se ruite stukkend

Volgens inligting van die SAPD kan die skade wat in die 12 voorvalle, oor die naweek, aangerig is op sowat R24 500 beraam word.

Drie jong mans wat blykbaar ’n wit Tazz of Toyota Conquest ry is besig om inwoners van die dorp te terroriseer en groot skade aan te rig.

Die afgelope drie weke is tientalle huise se vensters stukkend gegooi deur dié booswigte.

Gisteraand (Sondagaand) is 10 voorvalle by die Brakpan SAPD aangemeld.

Ses hiervan was in Taftlaan en die ander in Hastingslaan, Prince Georgelaan, Strangelaan en Gardinerlaan.

Die insidente het tussen 9nm en 11nm plaasgevind.

Saterdagaand het twee huise in Porterlaan en Muirlaan deurgeloop.

Volgens inligting van die SAPD kan die skade wat in die 12 voorvalle, oor die naweek, aangerig is op sowat R24 500 beraam word.

Benewens die naweek se voorvalle het talle inwoners van regoor die dorp die afgelope tyd voorvalle aangemeld en ook hul misnoeë op sosiale media te kenne gegee.

By een van die huise wat Sondagaand geteiken is het ’n bejaarde man ernstige beserings vrygespring toe ’n groot stuk teer deur sy kamervenster gegooi is.

Die stuk teer het deur die ruit gebars en die voetenent van die bed getref.

“Indien ek andersom geslaap het, het daardie stuk teer my teen die kop getref,” het ’n ontstoke Piet van der Merwe (72) gesê.

Hy vertel dat hy Sondagaand ongeveer 8.30nm in die bed gaan klim het.

Sy kamer is redelik naby aan die sypaadjie en daar is nie ’n heining of muur voor die huis nie.

“Ek was nog wakker toe die stuk teer deur die venster gegooi is.”

“Ek het dadelik opgestaan en die gordyn weggetrek,” het die bejaarde man gesê.

Van der Merwe het gesien hoe ’n jong man vinnig spore maak en in ’n wit Toyota Conquest klim.

“Ek is seker daarvan dat dit ’n Conquest was en dit was beslis ’n jong man,” het Van der Merwe gesê.

“Die munisipaliteit is besig om die straat, waarin ek woon, te herstel en daar lê oral stukke teer. Dit was natuurlik vir die knape maklik om net een van die stukke op te tel en te gebruik.”

In baie van die ander voorvalle is bakstene gebruik.

’n Woordvoerder van die Brakpan SAPD het gesê dat daar deeglik kennis gedra word van die tendens en dat dit in ’n baie ernstige lig aanskou word.

“Die publiek word versoek om die voorvalle so gou moontlik aan te meld,” het die woordvoerder bygevoeg.

Lees ook:

Bejaarde(78) deur drie vroue beroof

Volg ons:

Instagram
Twitter
Facebook

Ontvang die nuutste nuus op jou foon:

WhatsApp nommer:  0794306641 (voeg ons by jou kontaklys en stuur jou naam en van op WhatsApp)

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button