CrimeEditor's choiceNews

Rowers gooi man in oop graf

Gewapende rowers het Donderdagoggend ‘n werknemer van ‘n begrafnisonderneming in ‘n oop graf gegooi waarna hulle toerusting en ‘n sleepwa gesteel het.

Volgens Chris Venter, bestuurder van Avbob, Brakpan is die werknemer ongeveer 8.30vm by die begraafplaas afgelaai tesame met ‘n sleepwa, wat ondermeer  toerusting, stoele en tente bevat het.

“Die werker het voortgegaan om ‘n graf gereed te kry  vir ‘n begrafnis en was basies klaar toe ‘n wit bakkie met vier insittendes by hom stilgehou het,” het Venter gesê.

Twee rowers, waarvan een gewapen was, het die werknemer genader. Die ander twee het by die bakkie gebly.

Die werknemer se hande is vasgebind waarna hy in die graf gegooi is.

Die rowers het daarna die aflatingsmasjien, tente, stoele matte en grawe in die sleepwa gepak.

“Ons werknemer is verder aangerand voordat die rowers op die vlug geslaan het met ons sleepwa en toerusting,” het Venter gesê.

Nadat die booswigte weg is kon die slagoffer daarin slaag om homself te bevry en het hy hulp gaan soek.

Hy is per ambulans na ‘n hospitaal geneem waar hy behandel en later ontslaan is.
“Ons het ook gereël dat die werknemer die nodige berading sal ontvang,” het Venter bygevoeg.

Hy het gesê dat die totale waarde van die gesteelde goedere ongeveer R100 000 beloop.

Volgens hom het die begrafnis voort gegaan.

“Toe ons van die voorval te hore kom het ons genoeg tyd gehad om die nodige te doen voordat die begrafnisgangers opgedaag het.”

“Niemand het eens geweet van die ontstellende voorval nie,” het Venter gesê.

Volgens hom het die rowers presies geweet wat hulle doen.

Die voorval is by die Brapan SAPD aangemeld en word ondersoek.

Lees ook:

Ma vat vier rowers aan toe hulle haar kind ut motor wil pluk

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Related Articles

Back to top button