Editor's noteLocal newsNews

Harde werk vir bietjie geld

“Daar is nie ander werk daar buite nie. Met die geld wat ek kry kan ek kos koop vir my vrou en kinders.”

Rommel versamelaars, wat dou voor dag die inhoud van vullisblikke omdolwe vir ’n stukkie herwinbare afval, is deesdae ’n algemene gesig.

Die mense wat hulle bymekaarmaak goed op selfgemaakte, lamlendige waentjies rondsleep word in die algemeen as ’n verpesting gesien, maar vir baie van hulle is dit hul enigste bron van inkomste.

Duisende mense is afhanklik van ander se rommel om ’n bestaan te voer.

Dit is ook die geval in die dorp. Honderde mans en selfs vroue is dou voor dag, elke dag, op hul pos om plastiek, papier en karton in groot wit sakke bymekaar te maak.

Een so ’n persoon is Jacob Katse (35), wat elke dag om 5vm reeds op pad is na die eerste asblik.

Jacob woon in ’n plakkerskamp saam met sy vrou en twee kinders wat onderskeidelik 13 en 19 jaar oud is.

Hy vertel dat hy die werk al vir die afgelope vier jaar doen en dat hy weekliks ’n inkomste van tussen R300 en R400 verdien.

“Daar is nie ander werk daar buite nie. Met die geld wat ek kry kan ek kos koop vir my vrou en kinders.”

Volgens Jacob is dit nie ’n maklike taak nie.

“Dis nou winter en wanneer ek in die oggende begin loop is dit baie koud en nog donker.”

“Partykeer jaag mense ons weg wanneer ons in hul vullisblikke wil kyk. Ander is darem weer vriendeliker en partykeer kry ek ook ’n bietjie kos.”

Jacob is elke dag tot ongeveer 2nm op straat, waarna hy terugkeer na sy woonplek.

Hy sorteer dan die rommel, wat hy bymekaar gemaak het, uit.

Een keer per week verkoop hy die vrag aan ’n herwinningsmaatskappy en steek dan tussen R300 en R400 in sy sak.

Hy sê dat hy sy bes probeer om nie, met sy waentjie, in die pad van motoriste te kom nie.

“Ek weet die mense word baie kwaad as ons in die pad loop, maar ons kan nie ons waentjies op ’n ander plek trek nie.”

Hy glo dat hy en die soveel ander wat daagliks rommel bymekaar maak ’n eerlike bestaan probeer maak.

“Hierdie is harde werk vir bietjie geld, maar dit is al wat ek kan doen.”

“Ek moet kos koop vir my vrou en kinders. Ons moet ook klere dra. So dit is min geld vir alles wat ons moet koop.”

Lees ook:

Plastic City continues to burn

Waentjies in die pad is ‘n gevaar

Werkloosheid veroorsaak groot ellende

‘Ons bly onder ‘n boom, want ons kry nie werk nie’

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button