Editor's choiceLocal newsNews

Kanker-video het die wêreld aan die gons

“Die produksie is baie diep met vele simbole om kanker nie so wreed uit te beeld soos wat dit regtig is nie."

’n Roerende video, wat ’n tiener van die dorp gemaak het oor ’n persoon se innerlike stryd en oorwinning oor kanker, is reeds meer as ’n duisend keer deur mense op YouTube gesien.

Nikita Kotze, ’n leerder aan die Hoërskool Stoffberg, wat kuns as ’n vak neem, het besluit om die video te vervaardig as deel van ’n projek wat sy moes aanpak.

“Ek wou graag kanker uitbeeld, omdat kanker deur so baie mense ervaar word. Mense baklei elke dag vir net nog een dag, maar soms wen kanker die stryd,” het Nikita vertel toe sy gevra is waarom sy juis kanker as die onderwerp vir haar video gekies het.

Die persoon oor wie die video handel, en wat die hoofkarakter vertolk, is Ina Fouché (52) wat self ’n lang pad met borskanker gestap het.

“Tannie Ina was nog altyd ’n positiewe inspirasie en nadat sy vir my haar kanker-verhaal vertel het, wou ek dit dadelik uitbeeld en gebruik in my kuns,” het Nikita gesê.

“Ons ken mekaar aangesien sy vroeër ’n onderwyser aan die Hoërskool Stoffberg was. Ons paaie het weer gekruis en nou sien ek haar weekliks vir ekstra wiskundeklasse.”

“Ek wou graag mense aanraak deur hierdie video. Wanneer mense die video kyk wil ek hê dat hulle aan ’n persoon moet dink wat kanker het. Dat hulle die storie saam met tannie Ina ervaar. Aan die einde besef dat as kanker oorwin word kan jy dit omhels en wegstap om met jou lewensreis voort te gaan.”

“Dit moet ook as ’n huldeblyk dien vir die wat wel hul lewe as gevolg van kanker verloor het,” het Nikita gesê.

Nikita het sowat 18 ure lank gewerk om die produksie, wat sewe minute lank is, lewe te gee.

“Ek het nog nooit ’n video vervaardig nie en is baie trots op my eerste poging.”

“Die produksie is baie diep met vele simbole om kanker nie so wreed uit te beeld soos wat dit regtig is nie. ’n Skildery, wat ek geskilder het, van ’n borskankersel, en wat tannie Ina se alter ego simboliseer, maak ook deel van die video uit,” het Nikita verduidelik.

Nikita was verbaas dat soveel mense (meer as 1 100 mense teen druktyd) dit reeds gaan kyk het.

“Ek beplan ook om dit binnekort in Engels te vertaal,” het sy gesê.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button